Tuesday, August 23, 2016

Moord: Jong Pretorianer sterf tydens heldedaad

Jong Pretorianer sterf tydens heldedaad
23 Augustus 2016
Phillip Bruwer


Reinhard Louw (21). Foto: Verskaf

Agtien dae nadat Reinhard Louw sy mondigwording gevier het, het hy met sy lewe geboet om dié van ʼn 63-jarige vrou, by wie hy die afgelope drie jaar woon, van ʼn groep gewapende mans te red.
Louw, ʼn Pretorianer wat in 2013 aan die HTS John Vorster matrikuleer het, het ná skool toelating by Imperial Auto se ambagskool gekry en verder as ʼn petrolwerktuigkundige studeer, terwyl hy by Mercedes Benz East Rand in Boksburg gewerk het.
Hy het gedurende die week in ʼn gastehuis naby sy werk gebly, waar die tragedie hom Vrydag omstreeks 11:50 afgespeel het. Hy het gewoonlik Vrydae teruggery na sy ouerhuis in Villieria om naweke daar deur te bring.
“Reinhard is onlangs deur sy ambagskool gekies om aan die World Skills-kompetisie deel te neem. Dit was vir hom ʼn groot voorreg om vir die geleentheid gekies te word. Dit is soos die Olimpiese Spele vir mense wat ambagte beoefen,” het sy ma, Carina, Dinsdag aan Maroela Media gesê.
Sy het vertel Reinhard het Vrydagoggend sy eerste proewe vir dié kompetisie in Germiston gaan aflê en is daarna terug na die gastehuis om sy klere in te pak, sodat hy ná werk direk van daar Pretoria toe kon ry.
Reinhard het by die gastehuis se veiligheidshek uitgery net toe die eienaar, Nita Pienaar, in die oprit na die huis stilgehou het nadat sy by die bank was. ʼn Ander motor het langs haar stilgehou en sy is vermoedelik deur vier vermeende kapers oorweldig.
“Hy het besef wat aangaan en sy reflekse het oorgeneem. My seun is presies soos wat sy naam aandui, ʼn mens met ʼn rein hart. Hy het vir drie dinge, die Here, mense en geregtigheid gelewe en daarom het hy instinktief opgetree om Nita te help.”
Hy het vorentoe gery om die kapers van Nita weg te keer en het moontlik een van die aanvallers en hul voertuig gestamp, voordat een van hulle hom deur die windskerm doodgeskiet het. Ná die doodskoot het sy motor nog vorentoe beweeg en oor Nita gery.
Die kapers het met leë hande van die toneel gevlug. Reinhard is op die toneel dood verklaar en Nita is na ʼn hospitaal geneem, waar sy tans aansterk.
“Sy herstel goed en ons dank die Here daarvoor. Ons was vanoggend by haar en sy is nog getraumatiseerd. Sy het gesê as die nie vir Reinhard se optrede was nie, was sy dood.”
Die groep se verwoestingstog het egter nie daar geëindig nie. Kapt. Juanita Coetzer, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê aangesien die wegkommotor herkenbaar was aan die stampmerk, het die aanvallers in Jetpark ʼn motor van ʼn veiligheidsmaatskappy gekaap. Hulle het tot by ʼn taxistaanplek in Kemptonpark gery, die voertuig daar gelos en in ʼn taxi verder gevlug. Die veiligheidswag is nie tydens die kaping beseer nie.
“Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en motorkaping. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie het goeie leidrade wat opgevolg word en die ondersoek duur voort,” het Coetzer gesê. Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die verdagtes Nita moontlik van die bank af agtervolg het.
Carina het gesê Reinhard sal altyd onthou word as iemand wat voluit en tot eer van die Here geleef het. Die gesin vind vertroosting in die wete dat hy in die Hemel is. “Hy het gesterwe net soos hy gelewe het, vir mense, geregtigheid en tot die eer van die Here.”
Reinhard se begrafnis vind Donderdag om 14:00 by die Heatherdale-begraafplaas in Pretoria-Noord plaas. Die troosdiens volg om 15:30 by die Gereformeerde Kerk Totiusdal in Waverley.
Hy laat sy ma, pa, Alwyn, suster, Nerine (17) en grootouers, Gerrie en Rina van Aswegen, agter.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/jong-pretorianer-sterf-tydens-heldedaad/