Monday, August 15, 2016

Man met skroewedraaier gesteek, vrou veg terug

Man met skroewedraaier gesteek, vrou veg terug

Deur  Andrea Küsel
14 Augustus 2016 22:08
’n Vrou van Garsfontein in Pretoria het verbete teruggeveg toe twee aanvallers haar wou verkrag nadat hulle haar man styf vasgebind het.

Hy is met ’n skroewedraaier gesteek.

Die rowers het ingekom toe die vrou Vrydag 20:10 die agterdeur vir hul troeteldiere oopmaak, sê kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder.

Die egpaar is albei iets in die 50.

Die rowers wou kluissleutels en geld hê.

“Die man is met ’n skroewedraaier aangeval en hulle het die vrou probeer verkrag. Daar het ’n worsteling uitgebreek en die rowers het nie daarin geslaag nie,” sê Sepato.

Hulle is toe weg met net twee selfone.

Volgens bure wat nie hul name genoem wil hê nie, het die huis se alarm eers afgegaan toe die rowers uit die huis is. “Ons vermoed die rowers was tot 40 minute lank in die huis besig.”

Volgens een buurman was die man so styf vasgebind dat sy vingers begin blou word het.

Die egpaar is hospitaal toe geneem.

Sepato sê die rowers het die heining geknip.

Bure sê hulle voel weerloos omdat hul erwe aan Solomon Mahlangurylaan grens. “Enige persoon kan oor die muur spring.”

http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/man-met-skroewedraaier-gesteek-vrou-veg-terug-20160814