Monday, August 15, 2016

28-jarige student ‘gekaap en vermoor’

28-jarige student ‘gekaap en vermoor’
Deur Odette Kemp
14 Augustus 2016 21:01
Die lyk van ’n 28-jarige student is Sondagmiddag by Brighton-strand in Port Elizabeth gevind, ongeveer 15 uur nadat hy en sy vriendin gekaap en sy glo verkrag is. Die student se lyk is gevind ná ’n gesamentlike soektog deur verskeie polisie-eenhede en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI). Foto: Werner Hills
Die lyk van ’n 28-jarige student is Sondagmiddag by Brighton-strand in Port Elizabeth gevind, ongeveer 15 uur nadat hy en sy vriendin gekaap en sy glo verkrag is. Die student se lyk is gevind ná ’n gesamentlike soektog deur verskeie polisie-eenhede en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI). Foto: Werner Hills
Hy is na bewering deur ses mans gekaap en voor sy vriendin vermoor, waarna sy lyk 15 uur later in die see by ­Brighton-strand naby Blouwaterbaai gevind is.

Dié 28-jarige student aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU), wie se naam nog nie bekend is nie, is Saterdag omstreeks 21:30 saam met sy vriendin in Noordeinde gekaap.

Volgens ’n anonieme bron het die mans die twee in die kattebak van sy motor geprop en hulle na ’n kitsbank geneem waar sake glo skeef geloop het.

Hulle is daarna na die strand geneem, waar die verdagtes die student glo koelbloedig vermoor en sy vriendin na bewering om die beurt verkrag het.

“Die twee NMU-studente het in ’n motor gesit toe ses mans hulle genader en met ’n vuurwapen gedreig het,” het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

“Hulle is in die kattebak gedwing, waarna twee verdagtes met die motor weggery het.”

Naidu het bevestig dat die verdagtes hulle na ’n strand geneem het, waar die vrou na bewering verkrag is. Haar vriend is ’n paar meter van die motor doodgeskiet.

“Die verdagtes het later die vrou in Sentraal afgelaai en die voorval is [Sondag] in die vroeë oggendure by die polisie aangemeld,” het Naidu gesê.

Ná ’n soektog deur verskeie polisie-eenhede en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is die student se lyk in die see naby Brighton-strand gevind.

Die slagoffer se motor, ’n goue Polo Vivo met die registrasienommer HSC 308 EC, is nog soek. Volgens Naidu het die Baaise polisie onmiddellik ’n taakspan saamgestel om die verdagtes vas te trek.

“Die polisie versoek dat enigeen wat met die ondersoek kan help kapt. Klippie Killian (083 391 2377) of konst. Nkaza (082 442 1384) bel of 08600 10111 skakel. Alle inligting word as vertroulik behandel.”

Zandile Mbabela, NMU-woordvoerder, het Sondagaand in ’n verklaring gesê die universiteit is uiters geskok deur die voorval en sal hul bes doen om aan die meisie ondersteuning te verleen.

Bron: Netwerk 24
http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/28-jarige-student-gekaap-en-vermoor-20160814