Monday, August 15, 2016

Moord in Harties: Slagoffer se werker vas

Moord in Harties: Slagoffer se werker vas
Deur Hanti Otto en Susan Cilliers
14 Augustus 2016 23:26

Die werker wat alarm gemaak het ná die moord op Laurika Potgieter van Hartbeespoort is een van twee verdagtes wat in hegtenis geneem is.

Die ander verdagte is ’n onvergenoegde voormalige werknemer van Potgieter se padwerk-onderneming, het Beeld betroubaar verneem.

Koos Pansegrauw, ’n vriend van Potgieter (44), het gesê sy is genoop om dié werker in Februarie te laat gaan weens haar benarde finansiële situasie.

Nadat die werker laat gaan is, het Potgieter glo dreigemente ontvang.

Die twee verdagtes verskyn Maandag in die hof in Brits op aanklag van moord en diefstal, het sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder in Noordwes, gister gesê.

Potgieter se lyk is Woensdag in haar plaashuis in Rietfontein, Hartbeespoort, gekry. Sy is verskeie kere met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek en vermoedelik ook met ’n stomp voorwerp geslaan.

’n Rekenaar, skootrekenaar en selfone is geroof.

Volgens Moleko is die twee verdagtes ’n dag ná die moord in die Ten Rooms- informele nedersetting naby Hartbeespoort aangekeer.

“Die polisie het inligting ontvang oor iemand wat glo gesien is met twee selfone wat aan Potgieter behoort het. Die vermoorde vrou se selfone is glo daarna in sy besit gevind. Dié verdagte het in ondervraging erken hy was betrokke by die moord. ’n Tweede verdagte, wat as tuinwerker vir Potgieter gewerk het, is daarna aangekeer.”

Sy word oorleef deur drie dogters.

http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/moord-in-harties-slagoffer-se-werker-vas-20160814