Monday, August 22, 2016

Man op kleinhoewe in plaasdorpie doodgeskiet

22 Augustus 2016
Phillip Bruwer

Johan van Rensburg. Foto: Verskaf

Met sy laaste asem het Johan van Rensburg (62) verbete teen ʼn groep aanvallers geveg om sy verloofde, Dina, op hul kleinhoewe in die plaasdorpie, Sundra, in Mpumalanga te beskerm.
Wilma Botha (34), Van Rensburg se gebroke dogter, het Maandag aan Maroela Media gesê sy vind ʼn bietjie berusting in die feit dat haar pa soos ʼn held gesterf het.
Botha verduidelik ʼn buurvrou wat skuins agter haar pa woon, is Vrydag tussen 18:00 en 19:00 vermoedelik deur vier mans op haar kleinhoewe aangeval waartydens sy met ʼn graaf aangerand is. Die mans het laat spaander toe die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, ontbied is.
Van Rensburg, ʼn plaaslike houtkapper en -verkoper, en Dina het omstreeks 19:30 niksvermoedend by hul huis opgedaag.
“Hulle het net by die huis aangekom en uitgeklim toe my pa sien daar kruip mense agter hul vragmotor weg. Hy het vir tannie Dina beveel om in die huis in te gaan en het hulle afgeweer sodat sy genoeg tyd gehad het om in die kombuis in te gaan en die deur te sluit. My pa het met hulle gestoei en twee skote het afgegaan, een skoot het hom in sy kop getref,” het Botha gesê.
Die buurtwag, polisie en paramedici van ER24 was nog op die toneel van die eerste misdaad toe hulle die skote gehoor en gaan ondersoek instel het. Van Rensburg is op die toneel dood verklaar. Dina is ongedeerd maar getraumatiseerd. Die buurvrou is na die waakeenheid van ʼn nabygeleë hospitaal geneem.
Hennie Greeff, die buurtwag se voorsitter, het die voorvalle aan Maroela Media bevestig en gesê ondersoek word ingestel om te bepaal of dieselfde groep met albei voorvalle verbind kan word.
“ʼn Verdagte is Vrydagaand aangekeer en vir ondervraging na die Sundra-polisiestasie geneem,” het hy gesê.
Buurtwaglede het met die hulp van twee veiligheidsmaatskappye, die polisie en die Valke Vrydagaand en Saterdag na nóg verdagtes in die omgewing gesoek. Die soektog duur voort.
Dit is nie bekend of enigiets tydens die twee voorvalle gesteel is nie. Die Sundra-polisiestasie ondersoek die voorval. Maroela Media het die polisie genader vir kommentaar en wag nog vir terugvoer.
Botha het gesê sy sal haar pa as ʼn held onthou. “Hy was ʼn hero wat sy lewe gegee het om tannie Dina te beskerm, wat ʼn aanduiding gee van die goeie mens wat hy was. Hy het altyd baie hard gewerk om vir ons te sorg. Selfs in tye wat ons swaar gekry het, sou hy die min wat hy gehad het met ander mense deel. Hy het ʼn hart van goud gehad,” het sy gesê. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Greeff is vol lof vir die polisie en almal wat Vrydagaand saamgestaan en help soek het. Hy het sy innige dank en waardering teenoor die buurtwaglede, die polisie, die Valke, ER24, Maksimum Sekuriteit en AAA Sekuriteit betuig.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/man-op-kleinhoewe-in-plaasdorpie-doodgeskiet/