Deur André Desmonds | 19 Junie 2018 20:28
Natasha Mans is vermoedelik dieselfde dag as waarop sy
spoorloos verdwyn het, vermoor en haar lyk iewers in ’n vrieskas gehou.
Mans (41), wat nog voor haar dood hondeklere gemaak het, se lyk is ’n week gelede in haar vriend, Dennis Casten, se erf in Groenvlei naby Bloemfontein gevind.
Casten het haar op 31 Mei as vermis aangemeld.
Terwyl die raaisel oor Mans se moord verdiep, het die
polisie ’n sluier van geheimhouding oor die ondersoek getrek. ’n Reeks tergende
vrae hang egter oor die moord.
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie kan
nie verdere inligting bekend maak nie omdat dit moontlik hul ondersoek kan
belemmer.
“Daar is geen nuwe verwikkelinge nie. Die nadoodse ondersoek
sal waarskynlik vandeesweek afgehandel word,” is al wat hy wou sê.
’n Bron sê die moontlikheid bestaan dat Mans waarskynlik
reeds op die dag van haar verdwyning vermoor is, maar eers later op die plek
gelos is waar haar lyk sowat twee weke later gevind is.
Mans is op 13 Junie met ’n skietwond in haar bors en ’n
rewolwer langs haar lyk onder ’n boom gevind. Haar lyk is vermoedelik in ’n
vrieskas gehou voordat sy op die plek waar sy gevind is, gelos is.
Van die vrae waarvoor die polisie nou moet antwoorde kry,
sluit in:
+ Waar is die vrieskas waarin Mans gehou is voordat haar lyk
in Castenweg gelos is?
+ Hoeveel mense is betrokke by die moord, want dit sou
waarskynlik moeilik wees vir een mens om ’n bevrore lyk uit die vrieskas te
haal?
+ Was daar enige vreemde mense in die omgewing op die dag van
haar verdwyning?
+ As die rewolwer wat by haar lyk gevind is, nie die
moordwapen is nie, waarmee is sy geskiet?
+ Hoekom het Mans nie dieselfde klere aangehad toe sy gevind
is as dié waarin sy vermis geraak het nie?
Ben Mans, Natasha se broer, sê geen besonderhede van die
begrafnis gaan bekend gemaak word nie.
“Ons is geskok. Dit is ’n moeilike tyd vir ons, want ons
weet self nie wat aangaan nie.”
Mans, wat met Casten in ’n verhouding was voor haar dogter,
Noeline Koekemoer (15), se dood, se lyk is sowat 15 km van die kleinhoewe in
Bainsvlei af gekry waar hulle gebly het toe Noeline in April 2015 vermoor is.
Casten het gesê hy het “niks om te sê vir julle
sensasiesoekers nie”.
“Ek dien ’n God van waarheid. Jesus sal die waarheid
ontbloot,” sê hy.
Die ondersoek duur voort en die polisie het nog geen
verdagtes nie.
Bron: Netwerk 24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/natasha-dalk-op-dag-van-verdwyning-vermoor-20180619