Thursday, June 21, 2018

Mans moet opstaan oor Natasha Mans



Natasha.

Dis vreemd om ’n brief aan iemand te rig wat reeds dood is. Maar jy is nie die waspop wat skielik grys op die grasperk opduik voor ’n huis in Groenvlei nie.

Presies twee weke nadat jy kamstig weggestap het met die as van jou lieflingdogter, Noeline Koekemoer (15), duik jy op ’n mistige oggend op met miljoene vrae vir ons.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word. Elke minuut van elke dag in dié land.

Groenvlei is nou Stella, waar Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht in die koshuis verwurg is. Dan is daar ook Mooinooi waar Joey en Anisha van Niekerk vermoor en hul lyke uitgebrand is.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word.

Terwyl jy, Natasha, nog gerou het oor Noeline, ’n skoolmeisie in die fleur van haar lewe, wat in jul klein woonstel in Bainsvlei vermoor is, is jyself vermoor. En dit naby Nien, soos jy haar in jou laaste brief genoem het, se as in die kas in die huis.

Het jy daardie laaste oomblik aan haar gedink? Of uitgereik na die as, wat al troos vir jou was in die drie lang jare? Maar jou lyding en dood is besig om ’n woede onder baie mense te ontketen. Hoekom moes een vrou soveel deurmaak, en die moord in ’n kombers van leuens, bedrog en oëverblindery versteek word?

Want iemand het baie moeite gedoen om dit na selfmoord te laat lyk. En dit is seker die laagste van dié mense wat nie mans genoeg was om pa te staan vir jou, Natasha Mans, se moord nie. Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg. Tot jy presies 14 dae ná jou “verdwyning” op die grasperk 30 m van julle huis opgeduik het.

Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg.

Soos die polisiehelikopter die dae ná jy sou verdwyn het na jou gesoek het, is die ondersoekspan besig om die sirkel in die omgewing te fynkam op soek na die plek waar die moordenaars jou lyk weke lank gevries het.

Jy sou dit wou weet, Natasha, as dit iemand anders was wie se moord soveel raaisels het. Soos jy bly bid en hoop het ná Noeline se moord dat geregtigheid sal geskied. Al is dit vir baie ’n skrale troos. Want van daardie kol in die geel gras voor die huis in Groenvlei, waar die verskriklike daad glo gebeur het, kom die leidrade een vir een aan die lig.

Hoekom het iemand voorgegee jy het selfmoord gepleeg – terwyl jy ná jou dood dalk geskiet is? Of dalk nie. Dalk is die wond ’n steekwond. Die raaisels – en die leidrade – word by die dag meer. Want iewers volgende week as jy, Sunshine, soos jy jouself in die brief genoem het, in ’n geheime begrafnis ter ruste gelê word, moet daar ’n deurbraak kom in die ondersoek. Dis ’n klein troos vir baie, maar dis iets.

Rus sag, Natasha en Noeline.

Ons mans in die land het baie vrae om te antwoord oor julle en al die vroue wat ly.



Bron: Charles Smith | 21 Junie 2018 00:01

Netwerk24

https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/mans-moet-opstaan-oor-natasha-mans-20180620