Thursday, June 21, 2018

As ’n plaaswerker ’n boer word

'n Leierboer uit die Vrystaat bemagtig sy plaaswerkers

08:45 Mon, 18 Jun 2018

OFM se Pieter Möller gesels in die OFM-agrinuus insetsel met, Eddie Prinsloo, 'n merinostoetboer van Smithfield in die Vrystaat.

Van Prinsloo se plaaswerkers is die eerste begunstigdes in die provinsie wat eiendomsreg van 'n plaas ontvang het.

Luister onderhoud hier
https://soundcloud.com/therese-de-bruin/n-leierboer-uit-die-vrystaat

OFM-agrinuus word aan jou gebring deur NWK. Jou greep op die mark.

Bron: OFM nuus
https://www.ofm.co.za/article/before-dawn/263140/n-leierboer-uit-die-vrystaat-bemagtig-sy-plaaswerkers-
____________________
As ’n plaaswerker ’n boer word
17 Maart 2018 00:00


Nege plaaswerkers van Eddie Prinsloo van die Heuningkrans-merinostoetery van Smithfield word die eerste begunstigdes in die Vrystaat wat volle eiendomsreg van ’n plaas ingevolge die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, ook bekend as Esta) verkry. Charles Smith en Mlungisi Louw, fotograaf, het die boerdery besoek.



’n Trop spekvet hamels word deur ’n veewagter te perd oor die Suid-Vrystaatse veld op die plaas Donkerhoek, Smithfield, aangejaag.

Helder wolke propvol belofte dryf uit die suide oor die veld en oral lê blink poele water nadat 25 mm reën deur die nag hier uitgesak het.

Met die reën in die lug en die mooi skape wat deur die veld aanstap, is daar ’n opgewektheid te bespeur. En daar is genoeg rede.

Dié werkers is die eerste plaaswerkers in die Vrystaat wat ingevolge Esta sélf grondeienaars word. Donkerhoek, ’n plaas van 1 500 ha, se titelakte word eersdaags op hul naam oorgedra.

En dié hamels is hulle s’n. Dit is deel van ’n trop van 1 400 hamels waarmee hulle gaan boer.

Eddie Prinsloo, eienaar van die Heuningkrans-merinostoet, kon hierdie nuus ná twee jaar se onderhandelings met die staat aan die nege werkers oordra. ’n Vereniging vir kommunale eiendomsbesit word vir die sewe mans en twee vroue gestig en dan word die titelakte van Donkerhoek op hul naam geregistreer.

Prinsloo het die plaas aan die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming verkoop en hy en sy werkers sal ingevolge die samewerkingsooreenkoms die boerdery op die plaas bedryf.

Die Prinsloos sal 51% aandeel en die werkers ’n 49% aandeel hê.

***



Zane Phomane, die voorman, is al 30 jaar ’n werker op Heuningkrans. Hy is só deel van die stoetery dat hy al self ramme kan skou.

Sy lewe verander egter nou soos ’n handomkeer. Hy verander oornag van ’n plaaswerker na ’n boer.

“Ek boer nog altyd saam met Eddie Prinsloo. Ons werk goed saam. Ek is die eerste werker op wie se naam Donkerhoek is. Dit voel lekker, ja. En om saam het hom te boer maak dit beter. Hy help ons baie.”

Oor die dreigemente van pres. Cyril Ramaphosa en Julius Malema, leier van die EFF, om grond sonder vergoeding af te vat, is hy beslis.

“Hulle kan nie net op die plaas kom en sê hulle vat grond nie. Dit is nou my grond ook.”

Phomane sê die grond bied nie net ’n toekoms aan hom en sy vrou, Bettie, nie, maar ook aan hul kinders. Die 13-jarige tweeling Edwin en Eduard (hy is na Eduard Prinsloo vernoem), wil eendag boer. Die plan is om hulle vir hoërskool na die Landbouskool op Reddersburg te stuur en vir naskoolse opleiding na die Grootfontein-landboukollege.

Hy het ook nog twee jonger seuns, Tuto en Gift.

Andries Sephathi woon en werk al 35 jaar op Heuningkrans en het saam met Eddie Prinsloo grootgeword. Hy glimlag breed as hy gevra word oor sy status as boer.

“Ek is tevrede. Maar ek bly werk saam met Eddie, net soos die 35 jaar. Ek is op die plaas van ek 13 is. Eddie het my grootgemaak. Dit voel reg om hier te bly en te boer.”

Hy en sy vrou, Alphosina Maqeba, het drie kinders, Leboha (21), Tennotle (19) en Patrick (10). Patrick is ’n regte plaaskind wat net wil boer.

Prinsloo sê die boerdery mik ook om beeste aan te skaf en sowat 100 stoetooie waarmee die werkers self ramme vir Lesotho-boere gaan teel.

***



Eddie Prinsloo sê hy wou iets doen op sy grond met een voorwaarde – dit moet sy eie mense wees en nie vreemdes nie.

“Ons wil graag nog uitbrei. Ons gaan nie hier stop nie. Ons gaan die ding maak werk.

Ek het my voorgeneem dit gaan ’n voorbeeld wees van ’n suksesvolle boerdery,” sê hy in sy studeerkamer vol dekades se foto’s van merinoramme wat deur sy pa, Hennie, hy en sy seun, Eduard, geskou en op veilings verkoop is. Eduard is die vyfde geslag Prinsloo op die plaas.

Die onweer van onteiening van grond sonder vergoeding pla hom nie.

“My vertroue in landbou en in voedselsekuriteit is net te diep. Landbou moet nooit ontwrig word nie; dit is die hartklop van die land.

“Grondeienaarskap moet beslis uitgebrei word. Swart boere het net soveel aandeel in voedselsekuriteit as wit boere. Ons het groot geword met ons werkers wat vee aangehou het.”

Prinsloo sê daar moet meer sulke projekte wees sodat mense soos Malema se oë oopgaan. “Hulle het nie aan die komplikasies van grondonteiening gedink nie.”

Hy sê as lid van die Pro-Agri-groep bestaande uit voormalige nasionale boere van die jaar sal hy met Ramaphosa praat. Al die lede van dié vereniging het reeds sulke bemagtigingskemas aangepak. Die leierboere se invloed is geweldig belangrik.
Met ’n boeredag wat Elton Greeff, konsultant wat gehelp het met die onderhandelings, toegespreek het, was daar 35 boere van die Suid-Vrystaat en die Karoo.

Elkeen wou só ’n skema aanpak. Dit is boere wat Sesotho praat en die Sotho’s kultuur ken. Die staat moet net die Landbank finansier sodat hulle met laer rentekoerse dit kan aanpak. Dan kan die boere binne ses tot agt maande die plaas aan die werkers verkoop, sê hy.

“Elkeen wil net die kans kry om iets te doen. Elke blanke boer in Suid-Afrika moet ’n tipe bemagtigingsprojek aanpak. Dan het Malema geen grond vir sy vergrype nie. As hy op ’n plaas kom om dit af te vat, sal die werkers sê: ‘Dis my grond. Los uit! Dis my lewe hierdie,’ ” sê hy.

“Ons moenie met die broek op die knieë gevang word nie. Ons moes dit net lankal gedoen het. Ons moet ’n kopskuif maak, ons is mos verligte mense.

“Ek wil beter werkers vir my kinders los. Hierdie werkers se kinders moet op ’n landbouskool geskool word. Hulle moet opgelei word.”

Prinsloo sê as hy ’n bydrae kan maak om ’n beter toekoms te skep vir hom en sy gesin, die land se boere, sy werkers en die land, voel hy baie positief.

Daarom het hy glad nie getwyfel om die regte ding te doen nie.

Die Donkerhoek-boerdery kry ’n eie boerderynommer, ’n eie bankrekening, en eie koöperasierekening. Nou kan hulle sáám boer.

***


Die Esta-model is ’n goeie voorbeeld van hoe grondhervorming goed toegepas kan word, sê Greeff. Hier is wit en swart saam in ’n sakeverhouding betrokke.

Die voordele is dat Prinsloo as een van die beste boere in die land hul besigheid sal versterk. Die Heuningkrans-handelsmerk is gevestig en dit kan die werkers help om ramme te verkoop.

“Hierdie is ’n nalatenskap-boerdery. Eendag sal Eduard saam met die werkers kan boer. Dis ’n langtermynprojek. Die werkers vind baat by die besigheidsvaardighede wat oor dekades opgebou is en dit word aan hulle oorgedra. Lizette sal ook vaardighede aan die vroue oordra en daar kyk ons na toekomstige projekte.”

Hy sê dit is veral nou met die ANC en die EFF se dreigement om plase sonder vergoeding af te vat ’n belangrike voorbeeld hoe boere self grond aan hul werkers kan oordra.

“Dit is ’n goeie voorbeeld vir ander boere (vir grondhervorming). Dit was ’n lang proses, maar Eddie het deurgedruk. Die belangrikste is nou om die boerdery te begin. Dit moet volhoubaar oor ’n langtermyn bedryf word,” sê Greeff.

“Niks is egter maklik nie. Maar die belangrikheid van hierdie model lê daarin dat die werkers nie meer net werknemers is nie. Hulle is nou eienaars wat self die besigheidsbesluite moet neem.

“Hulle sien die gevolg van die besluit wat hulle self neem. As dit nie hulle grond is nie, sien hulle nie wat die direkte invloed van hul besluit is nie.”






Bron: Netwerk24
https://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/as-n-plaaswerker-n-boer-word-20180317