Wednesday, June 20, 2018

Man veg om lewe ná aanval op kleinhoewe

20 Junie 2018
Mariné Lourens


ʼn Jong pa van Gauteng veg om sy lewe in die hospitaal nadat hy Woensdag in die vroeë oggendure twee keer op ʼn kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria geskiet is.

Jonty Jacobs (28) was saam met sy verloofde, Doreen Lubbe, en sy sesjarige dogtertjie in die huis toe die voorval gebeur het.



Lubbe was Woensdagoggend baie emosioneel toe sy met Maroela Media gepraat het. “Hy veg om sy lewe omdat hy ons beskerm het,” het sy gesê.

Die presiese gebeure tydens die aanval is egter nog skraps. Danie Jacobs, Jonty se pa, het aan Maroela Media gesê hy het omstreeks 02:30 ʼn oproep van Jonty gekry wat vir hom gesê het daar is onbekende mense op die kleinhoewe.

“Hy het my gebel en gesê ek moet dringend kom, want daar is klaar mense in die huis óf hulle is besig om te probeer om in die huis in te kom,” het Jacobs vertel. Hy het dadelik in sy voertuig gespring en na die kleinhoewe gejaag.

In hierdie tyd het Jonty egter die aanvallers teëgekom en is hy twee keer in sy bolyf geskiet. “Ek is nog nie seker wat presies gebeur het nie. Ek weet nie of hy hom in die huis in die aanvallers vasgeloop het of wat nie,” sê Jacobs. “Doreen het vertel sy kon uit die kamer Jonty se stem hoor wat sê: ‘Vat net wat julle wil, asseblief. Moet ons net nie seermaak nie.’ En toe klap die skote.”

Volgens Jacobs het die aanvallers met onder meer selfone en ʼn televisie van die toneel gevlug.

Lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF) was eerste op die toneel en Jacobs enkele oomblikke later. Kort daarna was die SAPD ook daar en Jonty is na ʼn hospitaal gehaas.

Hy word tans in die hoësorgeenheid van die Steve Biko- Akademiese hospitaal behandel.

Jacobs sê een van die koeëls het deur Jonty se longe gegaan, wat erge inwendige bloeding veroorsaak het. Die tweede koeël het in sy bolyf agtergebly.

“Hy is tans verlam in sy onderlyf, so dit lyk of die koeël dalk in een van sy werwels vassit. Die dokters kan vir nou niks doen nie. Daar is ʼn pypie in sy longe om die bloed uit sy longe te dreineer. Hulle het verskriklik gesukkel om hom gestabiliseer te kry, maar die afgelope uur lyk dit of die verdowing ingeskop het en hy is nou baie rustiger. Ons sal so bietjie later meer weet oor sy toestand.”

Jacobs het bevestig Lubbe en Jonty se dogter is ongedeerd, maar erg getraumatiseerd. Die GPF het reeds berading vir die kind gereël en daar word tans na haar omgesien terwyl Lubbe en ander familielede by die hospitaal is.

Marie Kruger, voorsitter van die plaaslike GPF, het die voorval aan Maroela Media bevestig, maar wou nie meer inligting verskaf nie. Maroela Media wag op kommentaar van die polisie.

Bron: Maroela Media
____________________
Wian Vogel voel emosioneel saam met Jonty Striker Jacobs.
14 ure · 

Ek dra Jonty Striker Jacobs op aan die Here. Hy is vanoggend geskiet ini rug na n huis inbraak. My gebede gaan uit aan hom waar hy oppad hospitaal toe is. Conrad Blikkies Jacobs die Here is almagtig en sal sy hand oor hom hou. Almal wat die post lees bid asb saam.

Bron:
____________________
Inbrekers skiet man voor sy dogter, verloofde
Deur Andrea Kusel | 20 Junie 2018 14:09

’n Man is Woensdag in die vroeë oggendure ten aanskoue van sy sesjarige dogter en sy verloofde geskiet toe inbrekers toegang tot hul huis op ’n plaas in Leeuwfontein naby Roodeplaat in Pretoria wou verkry.

Jonty Jacobs (28) en sy sesjarige dogtertjie. Jacobs is Woensdagoggend vroeg verskeie kere raakgeskiet toe inbrekers toegang tot sy huis op ‘n plaas in Leeuwfontein naby Roodeplaat in Pretoria wou kry.

Jonty Jacobs (28) is verskeie kere raakgeskiet toe hy op die aanvallers geskree het.
Hy is in ’n kritieke toestand na die Steve Biko- akademiese hospitaal geneem.

“Hy het tussen 02:00 en 03:00 wakker geword toe iemand die houtraam van die venster probeer oopbreek het,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Toe Jacobs op die aanvallers skree, het hulle verskeie kere deur die venster geskiet. “Hy is meer as een keer getref, vermoedelik ook in die ruggraat.”
Volgens Cameron het die hele voorval ten aanskoue van Jacobs se dogtertjie en sy verloofde gebeur. “Hulle het ’n week of twee gelede verloof geraak.”
Cameron sê die polisie was op die toneel om die voorval te ondersoek. Die polisie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Bron: Netwerk24