Saturday, June 23, 2018

Plaasmoord: Bekende Bolandse aarbeiboer vermoor

Deur Jana Breytenbach
23 Junie 2018 19:00

Jeffrey Zetler Foto: Mark Wessels

Jeffrey Zetler (62), een van die bekende aarbeiboere van die Boland, is Saterdag op sy plaas, Mooiberge, vermoor.

Zetler was glo by sy kantore in die Brakelsdal-gebied naby Stellenbosch toe hy aangeval is.

Zetler hou sy geld by dié kantore wat steeds deel is van Zetler se eiendom. Hy is na verneem word gesteek en het aan sy wonde beswyk.

Na verneem word is dit ook Saterdag Zetler se vrou, Beverley, se verjaarsdag. Hulle het twee dogters wat nie op die plaas woon nie.
’n Ingeligte sê Zetler het glo van die werkers betaal, en die moontlikheid bestaan dat mense wat aan hom bekend was by die moord betrokke kon wees.

Hy is al vier keer tevore in sy kantoor beroof en het elke keer oorleef.

Zetler het in 2007 die vierde rooftog op sy plaas oorleef. Destyds is berig dat die gewapende rowers hom oor ’n naweek in sy inloopkluis vasgebind en sy motor gekaap het om weg te kom. Twee rowers is nie lank daarna nie aangekeer.

In die voorval in 2007 het tydelike werkers hom ingewag en in die kluis voorgekeer. Van hul makkers het buite wag gehou.
Destyds het hy vertel dat hy met die Here se hulp kalm gebly het.

Die rowers het hom op die grond laat lê. Die plaasbestuurder wat op die toneel aangekom het, is ook oorval.

Die rowers het met sy bakkie, kontant en ’n geweer gevlug. Die geweer is later buite die gebou gevind.

Bron: Netwerk24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/bekende-bolandse-arbeiboer-vermoor-20180623