Thursday, June 21, 2018

Natasha ‘in ander klere gevind’


Deur André Desmonds | 20 Junie 2018 20:53



Natasha Mans en haar vriend Dennis Casten. Foto: Facebook

Die vermoorde Natasha Mans het nie meer die klere aangehad waarin sy as vermis aangemeld is toe haar lyk onder ’n boom in haar vriend se erf in Groenvlei, Bloemfontein, gevind is nie.

Die polisie het Woensdag vir die eerste keer bevestig Mans (41) se lyk is gevind in ander klere as dié wat sy sou gedra het toe sy op 31 Mei as vermis aangemeld is. 

Haar vriend Dennis Casten het haar as vermis aangemeld en het sowat twee weke daarna op haar lyk onder ’n boom in sy erf afgekom.

Intussen het die Valke in Bloemfontein bevestig hulle sal nou die ondersoek na Mans se dood oorneem. 

Kapt. S’fiso Nyakane, Valke-woordvoerder, het Woensdag gesê die Valke gaan die saak verder ondersoek, hoewel hulle nog nie die dossier ontvang het nie. 

Die polisie het ook by monde van kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, gesê die lykskouing is reeds afgehandel, maar hulle wag nog op ’n omvattende verslag van die patoloog. 

Mans is glo Woensdag veras met ’n gedenkdiens wat Saterdag sal volg.

Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het met haar verdwyning ’n denimbroek en ’n sweetpakbaadjie aangehad het. Die organisasie Pink Ladies het dieselfde beskrywing versprei.

Volgens Marope was Mans se lyk geklee in ’n swart en grys trui, ’n swart noupassende broek en swart stewels.

Hy het ook bevestig dat ’n intensiewe soektog begin is na die presiese plek waar Mans vermoor is, omdat die polisie “ ’n sterk vermoede” het dat sy moontlik op ’n ander plek vermoor is. 

Volgens ’n bron word ook na voertuie gesoek wat moontlik gebruik is om Mans se lyk te vervoer. 

Voorts probeer die polisie vasstel of daar vreemde mense in die omgewing was op die dag toe sy “verdwyn” het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het nooit by die erf uitgestap die dag toe sy sou verdwyn het nie. Sy is vermoedelik dieselfde dag nog vermoor. 

Marope sê dit is nog nie bekend watter soort vuurwapen gebruik is om haar te skiet nie, omdat die polisie steeds wag op die ballistiese uitslae. 

“Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het,” sê Marope.

Volgens Marope het Mans op haar rug gelê met haar gesig na bo.

Bron: Netwerk24