Sunday, June 24, 2018

Plaasaanvalle: 2 pa's Saterdag doodgeskiet

Deur Susan Cilliers
24 Junie 2018 12:07

Foto: Facebook 
https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=2158584207688259&id=1613572102189475

Die polisie in Noordwes ondersoek twee afsonderlike rooftogte waarin twee pa’s doodgeskiet is.

In Rustenburg is die 47-jarige Kallie Schoonraad trompop geskiet toe hy sy kind en sy skoonpa te hulp gesnel het. Sers. Ofentse Mokgade, polisiewoordvoerder in Rustenburg, sê vyf rowers het die Schoonraads Saterdagaand op ’n plaas in die Shylock-omgewing naby Rustenburg oorval.

“Die man wat doodgeskiet is (Schoonraad) se skoonpa was buite die huis met sy kleinkind toe die rowers opdaag. Hulle het begin skree en die slagoffer het uit die huis gekom. Die rowers het hom net daar geskiet.”

Volgens Mokgade is die rowers toe die huis in, waar hulle Schoonraad se vrou, sy skoonpa en die kinders aangerand het. Hulle het huishoudelike goedere en vuurwapens gesteel, waarna hulle met die familie se Toyota Fortuner gevlug het. Die polisie soek nou na dié wit voertuig met die registrasienommer JTT 179 NW.

In ’n afsonderlike rooftog Saterdagaand is nóg ’n pa doodgeskiet toe hy sy dogter probeer beskerm het in ’n rooftog op ’n hoewe naby Hartbeespoort.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die rooftog het gebeur net nadat familie wat op die hoewe gekuier het, teruggekeer het huis toe.

“Die 64-jarige man en sy dogter (28) was alleen by die huis toe drie rowers hulle oorval. Die dogter was nog buite, maar hulle het haar aangesê om by die huis in te gaan. Daar het die gewapende rowers geld van die man geëis. Hulle het hom in die bors geskiet terwyl hy sy dogter probeer beskerm en met hulle onderhandel het.”

Volgens Funani het die rowers juweliersware, vuurwapens, twee televisies, ’n skootrekenaar en selfone gesteel voordat hulle gevlug het. Die polisie het nog nie die slagoffer en sy dogter se name bekend gemaak nie.

Sake van moord en huisroof word in sowel die Hartbeespoort- as Rustenburgaanvalle ondersoek. Teen Sondagoggend was niemand nog in hegtenis geneem nie.

Bron: Netwerk24 
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/2-pas-in-2-plaasaanvalle-doodgeskiet-20180624?
_____________________

Plaasaanval: Dogter ontsnap ná pa voor haar vermoor word
24 Junie 2018
Cyril Blackburn

Nóg ʼn boer is dood toe ʼn groep verdagtes Saterdagaand laat ʼn gesin van Broederstroom in Noordwes in hul huis aangeval en gemartel het.

Volgens getuies is die boer en sy gesin glo net na middernag op hul plaas oorrompel en etlike ure lank gemartel voordat die verdagtes hom later in die kop geskiet het.

Lorenz Jooste, een van die getuies, vertel Sondag aan Maroela Media hy en sy verloofde was op pad terug van Roodepoort op die Muldersdrifpad toe hy ʼn vrou in die middel van die pad opgemerk het. Volgens Jooste het die vrou gepoog om ʼn motor langs die pad te laat stilhou.

“Ek wou eers nie stop nie omdat ek in die verlede al ʼn bloutjie geloop het, maar iets het my genoop om terug te draai en hulp aan te bied. Die vrou was in ʼn histeriese toestand, sy kon amper nie praat nie. Haar regterskoen was deurgeloop, sy was vol bossies en blare. Ons kon sien iets verskrikliks het gebeur.”

Jooste sê die vrou het uiteindelik aan hom en sy verloofde gesê dat haar pa pas geskiet is deur verdagtes wat hulle in die huis oorrompel het. “Sy het gesê die verdagtes het by die deur ingestorm en haar pa koelbloedig doodgeskiet. Hulle wou haar vasmaak en het haar gedwing om inligting te gee soos wanneer haar sussie tuis sou kom. Haar sussie was in daardie stadium in ʼn kroeg naby aan die plaas en die verdagtes wou haar ook oorval het wanneer sy tuisgekom het. Sy het die inligting glo gegee omdat hulle haar gedreig het, maar daarin geslaag om los te kom en het weggehardloop.”

Hy sê sy was “geweldig getraumatiseerd”. Jooste het toe na ʼn nabygeleë vulstasie gejaag waar hy die polisie op die 10111-noodnommer ontbied het, maar niemand het glo geantwoord nie. Die getraumatiseerde vrou kon egter binne die winkel van die vulstasie haar man, wat in Stellenbosch bly, bel, en haar man het op sy beurt haar suster gebel en vir haar gesê om nié na die plaas terug te keer nie.

“Dit was net betyds. Die vrou se sussie was glo reeds op pad na die plaas toe, maar hulle het toe by ons aangesluit by die vulstasie. Dit was ʼn geweldige slegte ervaring.”

Die groep het in dieselfde tyd daarin geslaag om die Hartbeespoort-polisie te ontbied wat toe na die toneel is. Jooste sê hy het saam met die groep agter die polisie aangery.

“Die polisie het op die toneel skote geskiet. ʼn Mens is nogal bang, jy weet nie wie is geskiet nie. Ek was gewapen, maar wou nie binnegaan nie omdat ek nie geweet het wat presies op die toneel aangaan nie. Ons het ʼn rukkie later ʼn oproep ontvang wat sê dat alles veilig is en dat ons kan binnekom.”
Die presiese gebeure rondom die voorval is nie bekend nie. Na wat verneem word is die boer, sy vrou en dogter asook ʼn ouer man deur die groep, wat later gevlug het, gemartel.

Die polisie het die voorval aan Maroela Media bevestig. Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, sê die polisie ondersoek die voorval. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bron: Maroela Media
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/plaasaanval-dogter-ontsnap-na-pa-voor-haar-vermoor-word/