Sunday, June 24, 2018

MOORD te BFN, opvolg: Polisie lê beslag op selfoon van minderjarige na aan Mans

Deur Suzanne Venter
24 Junie 2018 00:01

’n Roudiens is gister vir Natasha Mans (41) gehou by die Ou Apostoliese kerk in Bloemfontein-Wes. Foto: Verskaf

Die polisie wat die moord op Natasha Mans ondersoek, het Vrydag beslag gelê op die selfoon van ’n minderjarige wat na aan haar was.

Volgens mense in die binnekring het die kind ’n bohaai daaroor opgeskop, maar die pa het die foon toe aan die polisie gegee.

Die polisie se forensiese span het ook monsters geneem by ’n gat wat in die straat voor die oorledene se huis in Groenvlei, Bloemfontein, ontdek is. Die gat is glo vars gegrawe.

Mans (41) het saam met haar kêrel, Dennis Casten (48), in dié huis gewoon.

Sy het op 31 Mei verdwyn nadat sy glo gaan stap het. Haar lyk is 13 dae later in die erf van haar huis gekry. Sy is vermoedelik op die dag van haar verdwyning vermoor, in ’n vrieskas gehou en toe later geskiet en op die erf gelos.

Familie en vriende van Mans het Saterdag ’n roudiens vir haar bygewoon in die Ou Apostoliese kerk in Melvillerylaan, Bloemfontein-Wes. Sy is reeds Donderdag veras. Priester Werner Piechazek, wat in 2015 haar 15-jarige dogter begrawe het nadat sy verkrag en vermoor is, het ook dié diens waargeneem.

Daar was geen toesprake by die diens nie. In die begrafnisbriefie was daar ’n boodskap van haar seun, Braam Koekemoer (16).

“Daar is nie woorde hoe ek oor ma voel nie . . . ma was die een wat altyd daar was vir my, my opgetel het waar ek geval het . . . die een wat net die beste vir my wou gehad het,” het hy geskryf.

Hy het ook geskryf: “. . . wens daar kon net nog een kans wees wat ons net kon praat oor als . . .”

Braam het vir jare saam met sy pa in Namibië gebly, maar hulle het onlangs Vrystaat toe getrek sodat Braam nader aan Natasha kon wees.

Natasha het nog ’n seun, Anroux Botha (8), wat by sy pa, Johan Botha, in Bloemfontein bly. Op die begrafnisbriefie was daar ’n prentjie van ’n blom in ’n blompot wat hy vir sy ma geteken het met die woorde: “Lief vir Mamma. Ek gaan vir Mamma mis.”

Volgens bronne in die binnekring is daar kwade gevoelens tussen van Mans se familie en Casten. Sommige familielede wou nie hê hy moet die roudiens bywoon nie, maar hy was wel daar. Hy kry glo baie swaar en het telkemale tydens die diens in trane uitgebars.

Mans het ’n koeëlwond in die bors gehad toe sy gevind is.

Haar dood het aanvanklik soos ’n selfmoord gelyk, maar dit het later geblyk die .375 Magnum-rewolwer wat by haar lyk gekry is, is nie die vuurwapen waarmee sy geskiet is nie.

Verskeie mense wat naby aan Mans was, het aan
Rapport gesê sy en die minderjarige wie se selfoon gekonfiskeer is, het gereeld vasgesit.

“Sy (Natasha) het my meer as een keer in trane gebel en vertel van hul verskriklike uitvalle. Sy het gesê sy sal nie verbaas wees as die persoon ooit probeer om iets aan haar te doen, soos om haar te vergiftig nie.”

Bron: Rapport
suzanne.venter@rapport.co.za
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/polisie-le-beslag-op-selfoon-van-minderjarige-na-aan-mans-20180623