Tuesday, June 26, 2018

MOORD: Bejaarde in Parys doodgeslaan, vrou hulpeloos in bed

Deur Kaydene Davids
26 Junie 2018 13:45

Foto ter illustrasie.Foto: André Damons

Terwyl ’n bejaarde man van Parys Sondagoggend in sy huis doodgeslaan is, het sy vrou, wat ’n aan ’n rolstoel gekluister is, hulpeloos in hul slaapkamer om hulp gewag.

Pierre Lotz (77), ’n ouddirekteur van onderwys in Gauteng, het Sondag omstreeks 02:00 ondersoek gaan instel nadat hy en Maggie (76), sy vrou, ’n geluid in die huis gehoor het.

’n Onbekende aantal aanvallers het hom oorrompel.

Sers. Mosili Ntsika, polisiewoordvoerder, sê volgens ’n voorlopige ondersoek het die aanvallers deur die kombuisdak toegang tot die huis verkry.
Sy sê Lotz is met ’n onbekende voorwerp teen die kop geslaan en is later dood op die vloer in die televisiekamer aangetref.

Sarie van Heerden (79), sy skoonsuster, sê die bure het die egpaar te hulp gesnel nadat hul huisalarm afgegaan het.

Sy sê hulle het op Lotz se lyk afgekom en sy vrou was steeds in die bed.
Volgens Van Heerden is dit nie eerste keer dat die egpaar onder misdaad deurgeloop het nie.

“Net enkele weke tevore is al hul kos, ’n grassnyer, ’n kas en verskeie toerusting uit hul huis gesteel. Skaars ’n week later is ’n televisiestel ook gesteel.”
Sy sê Lotz het juis die sekerheid opgeskerp om seker te maak dat hulle veilig in hul huis is.

“Maar steeds gebeur iets so wreed met ’n man wat net liefde vir sy naaste gehad het. Iemand wat uit sy pad vir ander gegaan en altyd mense gehelp het.”
Sy sê in die 52 jaar wat sy hom ken, het hy altyd geglimlag.
Van Heerden sê dit lyk nie asof Lotz se vrou besef dat hy dood is nie.
“Sy huil en treur oor hom, maar ek dink nie sy besef dat hy nooit weer gaan terugkom nie. Sy was so afhanklik van hom.”

Benewens sy vrou laat hy ook twee seuns, Jaco en Willem, en ’n dogter, Hana-Ada, agter.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bron: Netwerk24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/bejaarde-in-parys-doodgeslaan-vrou-hulpeloos-in-bed-20180626?
____________________

Verlamde vrou lê hulpeloos terwyl man vermoor word
26 Junie 2018
Cyril Blackburn

ʼn Bejaarde vrou van Parys in die Vrystaat wat volgens die polisie aan ʼn rolstoel gekluister is, moes dié naweek hulpeloos toehoor hoe ʼn onbekende groep aanvallers haar man vermoor.

Sers. Mosili Ntsika, woordvoerder van die polisie, sê ʼn 77-jarige man en sy 76-jarige vrou het Sondag ná middernag wakkergeskrik van ʼn geluid binne hul huis. Die aanvallers was glo reeds binne die egpaar se huis nadat hulle deur die kombuisdak toegang verkry het.

Ntsika sê die bejaarde man het gaan ondersoek instel en is deur die rowers oorval en met ʼn skerp voorwerp gesteek. Hy is op die toneel dood.

Sy sê op navraag van Maroela Media die vrou was “hulpeloos” toe die rowers haar man aangeval het. “Sy is gedeeltelik verlam en kon glad nie beweeg of uit die bed uit opstaan om hulp te verleen of weg te probeer kom nie,” sê sy.

Die egpaar se bure het glo die polisie ontbied nadat die huis se alarm afgegaan het. “Die man se liggaam is later in die sitkamer van die egpaar se huis aangetref. Hy het kopwonde gehad,” sê Ntsika.

Die polisie wou nie in dié stadium meer inligting bekend maak nie. Die 77-jarige man word deur talle op sosiale media as Pierre Lotz, ʼn oudskoolhoof, geïdentifiseer.

Dit is nie duidelik of enigiets in die voorval gesteel is nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Sake van moord en huisroof word ondersoek.

Bron: Maroela Media
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/verlamde-vrou-le-hulpeloos-terwyl-man-vermoor-word/