Tuesday, June 26, 2018

PLAASMOORD: Bejaardes in kop geskiet

Bejaardes op plaas vasgebind en in kop geskiet
Deur André Damons
26 Junie 2018 18:43

’n Bejaarde egpaar van Van Stadensrus in die Vrystaat is op hul plaas buite die dorp doodgeskiet nadat hulle na bewering aan stoele vasgebind is.

Choppie Bruwer (78) en sy vrou, Marian (68), is albei in die kop geskiet. Die egpaar is verlede jaar getroud.

Hulle het alleen op die plaas sowat 3 km buite Van Stadensrus gebly en is Maandagnag deur ’n onbekende aantal mense aangeval en vermoor.
Bruwer boer nie meer self nie en verhuur sy plaas.

Die voorval is die 18de plaasaanval vanjaar in die Vrystaat waarin saam vyf mense vermoor is.

Alma Human, Bruwer se jonger suster, woon in Bloemfontein en sê ’n polisievrou het haar Dinsdagoggend gebel en gevra wanneer laas het sy met haar broer en skoonsuster gepraat.

Bruwer moes Dinsdagoggend werkers gaan oplaai en toe hy nie opdaag nie, het hulle bekommerd begin raak en die polisievrou gebel.

“Sy bel altyd plaas toe en toe sy nie antwoord kry nie, het sy ’n buurman gebel om ondersoek te gaan instel. Toe die buurman by die huis kom was alles gesluit. Hy het om die huis gestap en deur ’n kamervenster geloer en gesien Marian sit op ’n stoel vasgemaak,” sê Human.

Volgens haar kon Kobus Fouché, die buurman, nie vir Bruwer sien nie en het hy die polisie gebel.


Fouché sê dit het nie gelyk of daar by die plaashuis ingebreek is nie. Die egpaar se motor was weg.

“Dit is ’n groot skok. Dit is mense waarmee jy elke dag te doen het.”
Sers. Mosili Ntsika, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n veiligheidshek in die huis is oopgebreek.

Volgens haar was die egpaar aan stoele vasgebind en is hulle albei in die kop geskiet.

Die aanvallers het met vuurwapens en selfone in die egpaar se silwer Chevrolet Spark (FWZ736FS) gevlug.

“Dit is baie hartseer en ’n verskriklike skok. ’n Mens voel sleg en kwaad. Dit is so onnodig. Ek hoop net nie hulle is baie verniel nie.

“Ek en Marian het elke dag op WhatsApp gepraat en ek het nog Sondag met haar geklets. Gister (Maandag) het ek vir hul albei ’n boodskap gestuur om te vra hoekom is hul so stil,” sê Human.

Die Here gaan hulle hierdeur dra, sê sy.

Polisiebeamptes en forensiese ondersoekers was nog teen laat Dinsdagmiddag op die toneel.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bron: Netwerk24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/bejaardes-op-plaas-vasgebind-en-in-kop-geskiet-20180626?
____________________
Plaasmoord-slagoffers se name bekend gemaak
26 Junie 2018


Die name van ʼn bejaarde egpaar wat Dinsdag dood aangetref is op hul plaas in die Vanstadensrus-omgewing, tussen Zastron en Wepener in die Vrystaat, is bekend gemaak.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het gesê dié organisasie betuig sy meegevoel met die naasbestaandes van Gabriel Daniel Bruwer (78) en Marian Rabie (Coetzee) Bruwer (67). Die organisasie se slagofferondersteuningseenheid wat die naasbestaandes bystaan, sal berading bied aan die familie en AfriForum sal ook reël dat die misdaadtoneel skoongemaak word.

Maroela Media het vroeër berig sers. Mosili Ntsika, polisiewoordvoerder, het bevestig die egpaar se huiswerker het vanoggend op die egpaar afgekom en dadelik die polisie ontbied. “Die egpaar is albei met ʼn kopwond in hul slaapkamer aangetref. Hulle was albei in hul stoele vasgebind,” het Ntsika gesê.
Ntsika het gesê daar was geen teken van gedwonge toegang aan die buitekant van die huis nie, maar dat ʼn veiligheidsdeur aan die binnekant van die huis na bewering oopgedwing is.

Die egpaar se voertuig, ʼn silwer Chevrolet Spark met die registrasienommer FWZ 736 FS, is gesteel sowel as vuurwapens en die egpaar se selfone. Die voertuig is nog nie gevind nie.

Die polisie ondersoek ʼn plaasaanval en twee sake van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Dit is ook nog nie duidelik hoeveel aanvallers by die moorde betrokke was nie.

Altesaam 34 mense, dié egpaar ingesluit, is vanjaar reeds op plase landswyd vermoor.

Bron: Maroela Media
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/plaasmoord-slagoffers-se-name-bekend-gemaak/
____________________

Shared via OFM Android Application. Get the OFM App on 

Google Play: https://play.google.com/store/apps/details?id=za.co.digitalplatforms.ofm&hl=en_US
or
App Store: https://itunes.apple.com/za/app/ofm/id1098172140?mt=8