Tuesday, June 26, 2018

Boer van Lichtenburg geskiet tydens rooftog

Deur Deur Alani Janeke 25 Junie 2018


Foto: Alani Janeke.

Drie verdagtes word tans gesoek nadat ’n boer Maandagoggend op pad na Lichtenburg tydens ’n rooftog geskiet is.
Mnr. Naudé Pienaar, assistent-hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê mnr. Danie Cronjé het kontant by hom gehad toe die verdagtes hom van die pad gedwing het.

Johan, Danie se broer, sê die verdagtes het op sy broer begin skiet terwyl hulle hom van die pad gedwing het en hy is in sy een kuit gewond.

“Twee van die mans, wat gewapen was, het uit hul voertuig geklim en Danie beroof, terwyl die derde verdagte in die voertuig gewag het,” het Johan gesê.

Die verdagtes het Cronjé van alles behalwe sy bakkie beroof. Hy het ná die voorval na die polisiekantoor op die dorp gery om die voorval aan te meld. Hy is in ’n plaaslike hospitaal behandel. “Ons is baie dankbaar dat hy vir ons gespaar is,” het Johan gesê.

Danie vier eerskomende Vrydag sy 43ste verjaardag. Die twee broers spekuleer met beeste en woon op ’n plaas in die omgewing.

Dit was die derde voorval waartydens ’n lid van die landelike gemeenskap in Noordwes sedert Saterdag in aanvallers se visier was.

Mnr. Kallie Schoonraad is Saterdagaand op sy plaas in die distrik Rustenburg doodgeskiet, terwyl mnr. Peter Dawson Sondagoggend vroeg op sy kleinhoewe in die Hartebeespoort-omgewing tydens ’n rooftog doodgeskiet is.

‘Een moord is een te veel’

Pienaar het landelike gemeenskappe aangemoedig om paraat te wees.

“Dit was ’n baie hartseer naweek vir Suid-Afrika en die landbou. Een moord is een te veel. Dit maak nie saak of dit op ’n plaas, in ’n stad, op ’n dorp of langs ’n pad is nie. Daar is te veel moorde in Suid-Afrika. Alle lewens maak saak en een moord is eenvoudig een te veel.”

Gee plaasmoorde dieselfde aandag as taxigeweld.

Intussen het Agri Wes-Kaap ’n dringende ontmoeting met mnr. Bheki Cele, die Minister van Polisie, versoek om by hom te hoor hoekom die polisie se landelike beveiligingsplan steeds nie daarin slaag om landelike bewoners te beveilig nie. Dit volg nadat mnr. Jeffrey Zetler, ’n bekende aarbeiboer van Stellenbosch, ook oor die naweek vermoor is.

Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, sê vier verdagtes word gesoek nadat Zetler Saterdagmiddag op sy plaas vermoor is. Hy is met ’n mes gesteek.

Agri Wes-Kaap sê luidens ’n verklaring die organisasie wil Cele tydens dié ontmoeting ook dringend versoek om meer hulpbronne aan die Wes-Kaap beskikbaar te maak om die SAPD se landelike beveiligingsplan behoorlik te implementeer.

Hulle wil Cele vra om ook dieselfde sterk standpunt teen plaasmoorde in te neem as wat hy die naweek teen moorde wat met taxigeweld verband hou, ingeneem het.
Die organisasie het sy medelye uitgespreek met die naasbestaandes, kollegas, familie en vriende van Zetler.

Bron: Landbouweekblad 
https://www.netwerk24.com/landbou/Nuus/boer-van-lichtenburg-geskiet-tydens-rooftog-20180625