Wednesday, September 21, 2016

‘Ystervrou’ sterf ná gewapende roof | Maroela Media
21 September 2016   Phillip Bruwer
Rina Pringle. Foto: Via Facebook



Rina Pringle, ʼn veiligheidsbeampte van Delmas in Mpumalanga, en ʼn kollega, Joseph Coombe, is Dinsdag in die plaasdorpie Sundra buite Delmas tydens ʼn gewapende roof geskiet.

Wilma Greeff, ʼn noodhulpbeampte van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, was van die eerste noodhulpbeamptes op die toneel.

Sy het aan Maroela Media gesê Coombe en Pringle is glo in hul veiligheidsvoertuig deur drie voertuie – ʼn Volvo, ʼn bakkie en ʼn Mercedes Benz – agtervolg en omstreeks 10:00 in Tweede Laan deur die voertuie tot stilstand gedwing.

ʼn Onbekende hoeveelheid mans het op die veiligheidsbeamptes losgebrand en nagenoeg 44 skote is afgevuur.

“Die vrou is met een skoot in die passasierskant van die veiligheidsmotor aangetref. Die man is vyf keer geskiet en het buite die voertuig rondgeloop toe ons daar aankom,” het Greeff gesê. Sy het gesê Coombe kon glo daarin slaag om twee van die aanvallers met sy vuurwapen te wond. Die gewondes se medepligtiges het hulle op die agterkant van die bakkie gelaai voordat hulle van die toneel weggejaag het. Dis is nog nie duidelik of die groep kon slaag om enigiets tydens die voorval te roof nie.

Die noodhulpwerkers en paramedici van verskeie nooddienste het Coombe en Pringle op die toneel gestabiliseer en na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Pringle het in die Life The Glenwood-hospitaal in Benoni aan haar beserings beswyk.

Die polisie en buurtwag het ʼn spoor van die Volvo gevolg, maar later verloor. Die verdagtes is steeds soek.

Greeff het namens haar man, Hennie Greeff, die buurtwag se voorsitter, paramedici van die Bernice Samuel-staatshospitaal in Delmas, Medlife en ER24 bedank. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die Sundra-polisie wat spoedig op die toneel was, asook alle buurtwaglede wat na die verdagtes help soek het.

Die buurtwag het hul innige simpatie met Pringle se familie, vriende en kollegas betuig en Coombe ʼn spoedige herstel toegewens.

Gemeenskapslede beskryf Pringle as ʼn “ystervrou” wat “ongelooflik lojaal” en “uitmuntend en toegewyd” was in haar werk.

Bestuur van die beamptes se veiligheidsmaatskappy was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie. Die maatskappy het die voorval op hul Facebook-blad bevestig.

“Dit is met groot hartseer dat ons almal meedeel dat ons afskeid neem van Rina Pringle wat vroeër vandag [Dinsdag] noodlottig gewond is tydens ʼn gewapende roof. Joseph Coombe is tans in die hospitaal en word behandel vir skietwonde. Sy toestand is ernstig maar stabiel. Ons meegevoel gaan saam met Rina se familie in hierdie moeilike tyd. Dankie vir almal se ondersteuning en bemoediging.”

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag vir terugvoer.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ystervrou-sterf-na-gewapende-roof/
-------
Mense wil maar net met julle deel daar was n geskietery vroer in Rietkol Sundra 2de laan, blykbaar was daar n paar voertuie betrokke waar hul die sekiriteits bakkie beroof het en die mense raak geskiet het, ons eesrste hulp span saam met die ER24 het als in ons vermoe gedoen om die pasiente te stabiliseer ongelukkig het Rina die sekiriteits dame dit nie gemaak nie sy is oorlede in die hospitaal, die oom is sop geneem sal julle terug voer gee sodra ons terug voering kry kom ons bid vir die families kom ons bid vir ons en ons gemeenskap kom ons staan saam en dryf sulke gebeure uit ons dorpie uit !!!!



Sundra Rietkol Bulldogs Buurtwag
https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=1222939904415740&id=608159389227131