Thursday, September 15, 2016

Aanvallers slaan bejaarde so hard dat hy bloed opgooi

Inbrekers slaan bejaarde so hard dat hy bloed opgooi
Die voorval het plaasgevind toe drie inbrekers toegeslaan het op ’n bejaarde egpaar se huis.
15 September 2016

Inbrekers het Dinsdagoggend ’n bejaarde man so hard met ’n breekyster (crowbar) oor die kop geslaan dat hy bloed opgegooi het.
Die voorval het plaasgevind toe drie inbrekers toegeslaan het op ’n bejaarde egpaar se huis in Bertie Meyer Singel, Minnebron.
Volgens die egpaar se 40-jarige seun, het sy ouers ongeveer 4.30vm wakker geword van ’n lawaai by die agterdeur.
“My pa (65) het gaan ondersoek instel en gesien dat die agterdeur en veiligheidshek oopgebreek was.”
“My ouers het die SAPD, wat redelik gou opgedaag het, gekontak en die lede het die erf en die huis deursoek, maar daar was geen teken van die inbrekers nie.”
Volgens die seun het sy pa homself daarna gereed gekry vir werk en was hy om 5.30vm in die kombuis besig om sy ontbyt te eet.
“My pa is heeltemal onkant betrap toe drie mans by die agterdeur ingebars het.”
“Een het hom dadelik hard met ’n breekyster oor die kop geslaan.”
“My pa is daarna na die sitkamer geneem waar sy hande met die telefoon se draad vasgebind is.”
“Een van die inbrekers het na my ma, wat nog geslaap het, se kamer gegaan en haar beveel om uit die bed te klim.”
“Sy is ook na die sitkamer geneem waar haar hande en voete vasgebind is.”
“Een van die mans het by my ouers gebly terwyl die ander twee waardevolle items asook elektriese ware op my ouers se Corsa bakkie gelaai het.”
“My ma moes vir hulle sê waar die sleutels van die voertuig en die hek is en hulle is vort met die bakkie en die gesteelde goed,” het hul seun vertel.
“My ma kon daarin slaag om haar hande en voete los te maak, waarna sy na buite gegaan het.”
“Bure van hulle was op pad werk toe en sy kon hulle selfoon gebruik aangesien my ouers se fone ook gesteel is.”
Die huiseienaar is na ’n plaaslike hospitaal geneem en is later oorgeplaas na die neurologiese eenheid van ’n hospitaal in Benoni.
“My pa het harsingskudding opgedoen en moes ook steke aan sy kop kry om die wond te heg.”
“Dit gaan beter met hom alhoewel hy ook sukkel met die gehoor in sy een oor.”
Die voorval word deur die SAPD ondersoek.
• Die name van die slagoffers asook hul seun is bekend, maar word om veiligheidsredes nie gepubliseer nie.

http://brakpanherald.co.za/137728/inbrekers-slaan-bejaarde-so-hard-dat-hy-bloed-opgooi/?utm_content=bufferef8d1&utm_medium=social&utm_source=facebook.com&utm_campaign=buffer