Thursday, September 29, 2016

Opvolg: Yster Fouché aangeval

Hermanus Times Thu, 29 Sep 2016
JANINE VAN DER RIET-NEETHLING
‘Dief’ kom tweede teen Yster


’n Inwoner van Vermont se skrotum is halfpad afgeskeur, hy is gebyt en met pepersproei gespuit, deur dit alles het hy steeds nie die inbreker laat los nie.

Yster Fouché het ’n inbreker in sy huis gevang, maar in die proses het hy verskeie beserings, insluitend sy skrotum wat geskeur is, opgedoen.

Yster Fouché van Malmokstraat het verbete een van twee inbrekers probeer keer om nie te voet te vlug alvorens die polisie opgedaag het nie, nadat hy die inbrekers Maandag in die vroeë oggendure in sy huis betrap het.

Sy vrou, Debbie, vertel: “Ek het sleg geslaap en iets in die kombuis gehoor. Ek het eers gedink dis my seun Roché, maar die geluide het anders geklink.”
Sy het vir Yster wakker gemaak om ondersoek in te stel. “Die inbrekers moes hoor ons praat, want toe Yster om die draai in die kombuis kom, het hul reeds begin hardloop.”

Yster het die een inbreker in hul tuin platgeduik, terwyl die ander inbreker oor ’n hoë muur ontsnap het. “Die inbreker het verwoed baklei om weg te kom. Hy het ’n mes in sy sak gehad en dit probeer uithaal, maar Yster het terugbaklei. Selfs ná die inbreker vir Yster twee keer met pepersproei in sy oë gespuit het, het Yster nie laat los nie.”

Debbie het intussen Safe Sekuriteit gebel, en binne drie minute was Safe daar, met die Polisie en ADT kort op hul hakke.

Die inbreker is op die toneel in hegtenis geneem en Yster is na die hospitaal gehaas.
Sy beserings sowel as die omgekeerde tuin, met stukkende potplante, bebloede patio en modder oral, vertel die storie van hoe erg Yster werklik moes veg om sy familie teen die inbreker te beskerm.

Yster is in die hospitaal behandel vir sy beserings. Letterlik van kop tot tone. Hy het verskeie steke in sy skrotum gekry, ook is die verskeie, diep bytmerke en kopwonde behandel. Sy oog is blou en hy het ’n sny bo-op sy kop.

Hy is tans op antiretrovirale behandeling, aangesien die inbreker sy arms en hande, met sy tande, deur sy vel, deurboor het toe hy hom gebyt het.

Na die tyd het Debbie haar rekenaar en drukker in die tuin opgetel. Haar handsak het sy voor in die pad gevind, maar haar beursie is weg.

Hulle het ook die volgende dag op menslike ontlasting in die agtertuin afgekom.

Dit blyk die inbrekers het ’n venster aan die agterkant van die huis oop forseer om toegang tot die huis te verkry.


http://media24.newspaperdirect.com/epaper/iphone/homepage.aspx#_articlead702fc9-6e25-4aa3-9a6f-0898b46ff19f/waarticlead702fc9-6e25-4aa3-9a6f-0898b46ff19f/ad702fc9-6e25-4aa3-9a6f-0898b46ff19f//true