Wednesday, September 7, 2016

Vrou veg verbete teen aanvaller wat by 2 huise toeslaan

Vrou veg verbete teen aanvaller wat by 2 huise toeslaan
Deur Mariska Spoormaker 07 September 2016 00:00


Nicky Emmens (57), ’n Nederlandse vrywillige werker, het gisteroggend vroeg verwoed teruggeveg teen ’n man wat by haar huis ingebreek en gesê het hy wil “oorslaap”, en haar toe aangerand het. Foto: MARISKA SPOORMAKER

Twintig jaar gelede is sy in Amsterdam verkrag en sy het haarself belowe dit sal nooit weer gebeur nie.

Toe die jong man dus Dinsdagoggend net ná middernag by haar slaapkamervenster op die boonste verdieping inklim en sê hy wil “oorslaap”, het ­Nicky Emmens (57), ’n Nederlander, se stryd om oorlewing begin.

Bloedsleepmerke teen die trap af en teen die mure van die huis in Richmond Hill, Port Elizabeth, vertel die verhaal van dié dapper vrou wat tot op grondvlak teen haar aanvaller gestoei het om sodoende by die noodknoppie te kon uitkom.

Beamptes van Atlas Security het gelukkig blitsig gereageer, want die stoel waarmee sy haarself teen die aanvaller verweer het, was al gebreek en hy het haar geskop en met die vuis in die gesig geslaan.

“Ek het geweet hy het gekom om my te verkrag en ek het gedink: Nie weer nie, nie oor my dooie liggaam nie!” het Emmens, haar gesig pimpel en pers geslaan, Dinsdag vertel.

Emmens se aanvaller het op die vlug geslaan toe die sekuriteitsbeamptes opdaag, maar twee ure nadat die polisie en ambulansdiens weg is by haar huis (omstreeks 03:00 Dinsdag­oggend), was die aanvaller terug.

“In ander klere! Hierdie soort mans hou nie op nie, dis ’n obsessie! Ek wil hulle van die straat af hê!” sê Emmens ontsteld, “maar ek sal nie huil nie, ek is te kwaad!”




Die verdagte wat glo gister by twee vroue se huise in Richmond Hill ingebreek het, het sy moses teëgekom. Van links is Wayne van der Spuy, Atlas Security-skofbevelvoerder, Shane Dyer en Eric le Roux, albei sekuriteitsbeamptes, met die verdagte tussen hulle, en ao. Ntame Lumkile en konst. Thembinkosi Phama, van die Humewood-polisiekantoor. Foto: MARISKA SPSPOORMAKER

Die eerste voorval het in Mackaystraat in Richmond Hill afgespeel. Die eerste voorval het in Mackaystraat in Richmond Hill afgespeel.

Die Atlas-beamptes het weer blitsig op die noodknoppie gereageer en die aanvaller het weer gevlug – glo net ’n paar blokke verder waar hy wéér by ’n verdiepinghuis, waar ’n vrou alleen bly, wou toeslaan.

Daar het Shane Dyer, Atlas-beampte nog op soek na die verdagte, hom gewaar waar hy teen ’n huis se muur opgeklouter het.

Dyer het sy kollegas gekontak vir versterking en die verdagte vasgetrek.

“Ek wou net skoene vir kerk kry,” het hy glo geantwoord toe die beamptes by hom wou weet hoekom hy by daardie venstertjie wou inklim.

“Ek is so dankbaar dat Atlas juis op patrollie was toe die man deur my venster probeer klim het,” sê die vrou van dié huis wat nie haar naam genoem wil hê nie.

“Ek het vroeër wakker geword, badkamer toe gegaan en toe ek terugkom, hoor ek die krap-krap-krap by my venster en ek sien die skaduwee.

“Net daarna is hy gevang.”

Foto’s van die verdagte is ook vir Emmens gewys en sy het die man as haar aanvaller van vroeër die aand herken.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het die inhegtenisneming van die verdagte in Sherlockstraat bevestig. Hy is tans in aanhouding.

’n Saak van onder meer huisroof en aanranding word ondersoek.

http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/verdagte-slaan-by-2-huise-toe-20160907