Friday, September 16, 2016

Booswigte oorval gesin

Rowers oorval gesin

14 Sep 2016 By Martie Le Grange  
MOKOPANE – ’n Gesin is erg getraumatiseerd nadat hulle Woensdagoggend by hulle huis in die dorp deur vyf gewapende rowers oorval en van R80 000 asook hul Volkswagen Kombi, Isuzu bakkie, twee vuurwapens en huishoudelike items beroof is.
Mokopane polisiewoordvoerder, sersant Irene Masingi het in haar korrespondensie met Noordelike Nuus gesê die man van die gesin is 05:00 die oggend uit die huis om hulle onderneming in die dorp vir die werknemers oop te sluit toe hy skielik deur vyf gemaskerde mans oorval, aangerand en terug in die huis gedwing is. Die verdagtes was gewapen met twee handwapens en twee messe.
Die gesin se twee kinders, 3 en 8 jaar oud, is in die huis se badkamer saam met hulle pa, wat vasgebind is, gelos. Geld is van hulle ma geëis. Sy is in die gesig geslaan nadat sy met geen geld vorendag gekom het nie. Die verdagtes het haar gedreig. Sy het toe, volgens die polisie verslag, met een van die mans na die gesin se besigheid gery waar sy die geld gaan haal en vir hom gegee het. Die verdagte het met die vrou se Volkswagen ontsnap.
Sy het een van die besigheid se voertuie gebruik, die sekuriteitsmaatskappy ontbied en huis toe gery.
Na haar aankoms by die huis is sy ingelig dat die ander verdagtes met haar man se Isuzu op die vlug geslaan het. Reaksielede van die Suricat Sekuriteit het haar man losgemaak en die gesin bygestaan.
Die voertuie is later verlate deur die polisie onderskeidelik op die N11 en in Parkmore, Gauteng, gevind.
Die polisie doen ’n beroep op enige iemand met inligting wat hulle kan help met hul ondersoek in die saak om vir kaptein Smith te kontak by 082 565 8277. 






Die Volkswagen Kombi van ’n gesin in die dorp wat Dinsdagoggend beroof is, is dieselfde dag deur die polisie in Parkmore, Gauteng gevind. Die gesteelde Isuzu bakkie is verlate op die N11 gevind
http://www.noordnuus.co.za/articles/news/38701/2016-09-14/rowers-oorval-gesin-