Tuesday, December 6, 2016

Sakeman-pa, dogter in gewilde Pta-kuierplek geskiet

Sakeman-pa, dogter in gewilde Pta-kuierplek geskiet
6 Desember 2016
Phillip Bruwer


Die eienaar van die gewilde kuierplek, Schivas Rock in Lynnwood in die ooste van Pretoria, en sy dogter is Dinsdagoggend in die kombuis van hul familieonderneming geskiet.
Volgens kelners wat by Schivas Rock werk, het twee gewapende mans omstreeks 10:20 die kuierplek binnegestorm en die eienaar, Andre de Almeida, en sy dogter Claudia, geskiet. Volgens inligting van die polisie is De Almeida 48 jaar oud en Claudia is 21.
De Almeida is in die linkerbors getref en Claudia in die gesig. Die aanvallers se gesigte was glo nie bedek nie. Die motief is in die stadium nie bekend nie, en dit is nie duidelik of iets tydens die voorval geroof is nie. Daar is ʼn skootrekenaar en selfoon op die toneel wat nie gesteel is nie.
Maroela Media het die toneel later besoek en met twee ooggetuies van ʼn nabygeleë mediese praktyk gepraat wat die gewonde pa en dogter ná die skietery bygestaan het.
Volgens Laurance Viljoen (24), die praktykbestuurder van Life Lab, het hulle omstreeks 10:24 ʼn vrou hoor skree. “Ons het glad nie die skote gehoor nie. Schivas is ʼn klankdigte kuierplek en die skietery het glo in die kombuis plaasgevind,” het Viljoen aan Maroela Media gesê.
Die slagoffer se vrou het kort daarna erg getraumatiseerd in die onderneming ingestorm en hulp ontbied. Een van Viljoen se werknemers, Olivia Kasselman (24), is ʼn opgeleide traumasuster en sy en Viljoen en ʼn plaaslike dokter is dadelik na die slagoffers om hulle by te staan.
Claudia is in die gesig getref, maar kon self na die ambulans stap, waarna sy in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is.
De Almeida het egter kritieke beserings opgedoen. Die dokter, suster en paramedici van Advanced Paramedic Assist het nagenoeg ʼn uur lank gespook om sy lewe te red. Hy is in ʼn bedenklike toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.
Na verneem word, is niemand anders tydens die voorval beseer nie.
Die kuierplek is tot verdere kennisgewing gesluit.
Die Brooklyn-polisie ondersoek twee sake van poging tot moord.
Kapt. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig ʼn volskaalse soektog is van stapel gestuur na die twee skieters. Hulle het glo in ʼn silwerkleurige Golf 7 van die toneel gevlug. “Albei slagoffers word in die hospitaal behandel. Die motief vir die voorval is onbekend. Die polisie is besig om alle leidrade op te volg, maar tot dusver is niemand in hegtenis geneem nie,” het Mavimbela gesê.




http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/sakeman-pa-dogter-in-gewilde-pta-kuierplek-geskiet/