Wednesday, December 7, 2016

Rowers probeer dogtertjie (2) uit kar pluk.

Rowers probeer dogtertjie (2) uit kar pluk
Boewe het Maandagmiddag probeer om ‘n twee en ‘n half jaaroue dogtertjie uit ‘n voertuig in die middedorp te ruk.
7 Desember 2016


Die familie het versoek om anoniem te bly om hul kind se identiteit te beskerm.
Volgens die dogtertjie se ma, gaan haal haar man hul kind gewoonlik in die middae by die skool. Op pad huistoe moes hulle stop by die verkeerslig waar Bhimy Damane- en Walter Sisulustraat kruis.
‘n Ouerige man het skielik hard aan hul bakkie se deur aan die bestuurderskant gepluk. Dit was gesluit. Maar die passasierskant was vir een of ander rede nie gesluit nie.
‘n Tweede boef het dit oopgeruk en die man se foon uit sy dogtertjie se hande gepluk. Dit was egter nie genoeg nie en hy het begin om die kind aan haar arms op te lig en haar gepluk om haar uit die voertuig te kry.
Hy kon nie daarin slaag nie, omdat haar beentjies aan die veiligheidgordel waarmee sy vasgebind was, vasgehak het.
Die boewe is toe weg met net die selfoon. Toe die mans op die vlug slaan, het die kind se pa eers sy voertuig afgeskakel en besluit om die booswigte agterna te sit.
Hy het egter besef dat hy nie sy kind alleen kan agter laat nie.
“Ek het vanoggend vir my kind se juffrou by die skool gesê om ander mammas te waarsku. Ons sluit gewoonlik die deure maar die een keer toe dit nie gesluit was nie, toe gebeur daar so iets. My man neem homself nou nog kwalik omdat hy niks kon doen nie,” sê die dogtertjie se ma.
•Daar is ook vroeër die jaar gepoog om ‘n kind uit ‘n kar te pluk in die Tosca Sentrum se parkeerterrein.

http://mobserver.co.za/60945/rowers-probeer-dogtertjie-2-uit-kar-pluk/