Tuesday, December 6, 2016

Manie Steyn doodgeskiet

Man kort ná familie-braai doodgeskiet
5 Desember 2016
Mariné Lourens



Manie Steyn. Foto: Drift Reaction via Facebook

ʼn Man se bebloede liggaam is Sondag deur familielede in sy slaapkamer in ʼn huis in Elandsdrift naby Muldersdrift aan die Wes-Rand aangetref.
Sers. Linkie Lefakane, woordvoerder van die polisie, het gesê die man, in sy 50’s, is omstreeks 01:00 die oggend doodgeskiet, maar sy dogter het eers omstreeks 12:00 op haar pa se liggaam afgekom. Lefakane het gesê die man het koeëlwonde in sy maag en been gehad.
“Daar was geen tekens van gedwonge toegang tot die huis nie. ʼn Saak van huisbraak en moord word ondersoek,” het Lefakane gesê.
ʼn Plaaslike veiligheidsmaatskappy, Drift Reaction, het die man as Manie Steyn geïdentifiseer. Volgens Drift Reaction het familie van Steyn Saterdagaand by hom gebraai en gekuier. Hulle het hom Sondagoggend gebel om te hoor of hulle kan kom help om skoon te maak en het bekommerd geraak toe hy nie sy selfoon antwoord nie.
“Toe die familie by sy huis aankom het hulle die voordeur wawyd oop gevind en bloedstrepe gesien wat van die deur in die huis ingelei het,” het Drift Reaction op hul Facebook-blad gedeel. Die maatskappy beweer Steyn se liggaam is met drie koeëlwonde in sy bors in die slaapkamer gevind.
“Dit is nie duidelik hoe die verdagtes toegang tot die huis gekry het nie. Dit kan wees dat Manie buitentoe gegaan het om vir sy hond ʼn been te gee, omdat ʼn been naby die bloedspoor gevind is. Dit is duidelik dat hulle hom by die deur geskiet het en hy het daarin geslaag om in sy slaapkamer te kom, die deur te sluit en sy vuurwapen te kry. Die slaapkamerdeur is deur die verdagtes oopgeskop. Dit is nie duidelik wat presies in die slaapkamer gebeur het nie, maar sy liggaam is langs sy oop kluis gekry en sy vuurwapen word vermis.”
Volgens Drift Reaction word daar uit die voetspore in die bloed afgelei dat daar drie verdagtes betrokke was. Verskeie waardevolle items is uit die huis gesteel.
Lefakane het ʼn beroep gedoen op enigiemand met meer inligting om die Muldersdrift-polisiestasie by 011 952 4600 of Crime Line by 08600 10111 te bel.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/man-kort-na-familie-braai-doodgeskiet/