Tuesday, December 6, 2016

Opvolg: Johan van Niekerk (59) met messe aangeval

NW-boer met messe aangeval: ‘Ounooi, hulle maak my dood’
6 Desember 2016
Mariné Lourens


Johan van Niekerk. Foto: Verskaf


Johan en Sonja van Niekerk by hul twee dogters, Hesna Rust en Gerna Breytenbach. Foto: Verskaf


Johan en Sonja van Niekerk. Foto: Verskaf

Johan van Niekerk (59), die boer van Noordwes wat Maandagaand buite sy huis op sy plaas met messe aangeval is, het na ʼn venster gestrompel en vir sy vrou geskree om te help voordat hy inmekaargesak het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep aanvallers het Van Niekerk omstreeks 20:00 op sy plaas, buite Delareyville in Noordwes, oorval en verskeie kere met ʼn mes gesteek. Hesna Rust, Van Niekerk se dogter, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Van Niekerk was op pad terug van die melkery toe dit gebeur het.

“Vyf aanvallers het my pa in die binnehof van die huis ingewag. Hulle het hom oorval en hom met messe oor sy hele lyf gesteek, meestal in sy rug, maar ook in sy arms en nek,” het Rust gesê. “My pa kon daarin slaag om na die badkamervenster te strompel en het vir my ma geskree: ‘Ounooi, hulle maak my dood!’. Toe het hy inmekaargesak.”

Rust vertel haar ma, Sonja van Niekerk (56), het die aanvallers buite die huis in die binnehof gesien en die deur oopgemaak sodat die honde kan uithardloop. Die aanvallers het op die vlug geslaan en Sonja het haar man die huis in gesleep en dadelik gebel om hulp te ontbied.

ʼn Dokter, sy vrou en ʼn verpleegster, wat op aangrensende plase bly, het na die plaas gejaag, waar hulle die bloeding kon stop en hom stabiliseer. Intussen het boere van onder meer Delareyville, Ottosdal, Vryburg en Wolmaransstad, hulle na die toneel gehaas om te help met die soektog na die verdagtes. Die verdagtes se spoor is tot by ʼn teerpad gevolg waar hulle verdwyn het.

Volgens Rust is Van Niekerk na ʼn private hospitaal in Klerksdorp geneem waar hy tans in ʼn geïnduseerde koma gehou word. “Hy is op ʼn ventilator omdat hy sukkel om asem te haal weens die swelling in sy keel. Sy toestand is ernstig, maar stabiel,” het Rust gesê.
Sy het gesê haar pa het op hierdie plaas grootgeword en bly sy lewe lank nog daar. Dit is die eerste keer dat só iets op die plaas gebeur. “Dit is vir ons baie skokkend dat so iets sal gebeur, want my pa is net goed vir al die mense met wie hy te doen kry,” het sy gesê. “Emosioneel gaan dit nie goed met my ma nie. Sy het ses maande gelede ʼn rugoperasie gehad en sy moes my pa se groot lyf alleen die huis in sleep. En om nou haar man so te sien… Sy kry baie swaar.”

Rust het gesê sy, haar sussie en albei se mans is tans op pad na Klerksdorp om hul ma by te staan.

“Ek wil namens ons hele gesin vir die gemeenskap ongelooflik baie dankie sê dat hulle so onbaatsugtig gehelp het en my ouers te hulp gesnel het. Jy kan nie dink dat een gemeenskap sommer net so soos een man kan inspring en help nie. Daar was seker meer as 100 boere op die toneel, dit was net ongelooflik. Uit die diepte van ons hart kan ons net sê baie, baie dankie,” het sy gesê.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van poging tot moord word ondersoek.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/nw-boer-met-messe-aangeval-ounooi-hulle-maak-my-dood/