Monday, August 7, 2017

Moord: Twee vas ná buurtwaglid in hart gesteek is

Opvolg - ’n Buurtwaglid is Vrydagaand in Kraaifontein doodgesteek toe hy na ’n toneel vier strate van sy huis ontbied is.

Alec du Toit (30) is twee keer in sy longe en een keer in sy hart gesteek, het sy hartseer pa, Alexander, Sondag gesê.

Die voorval was Vrydag tussen 20:00 en 20:30 in Tennantsraat.

Alec het op ’n boodskap op die buurtwag se WhatsApp-groep gereageer oor twee verdagte mans wat in die buurt opgemerk is.

Hy was vir sowat ’n jaar lank ’n buurtwaglid.

“Hy was tuis toe hy ’n WhatsApp-boodskap ontvang oor verdagte mans wat vier strate van ons huis gesien is. Soos hy maar altyd is, het hy gery om ondersoek te gaan instel.”

Du Toit sê hy vermoed daar was ’n konfrontasie toe sy seun aangeval is. Alec se selfoon word vermis.

Volgens lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, is een verdagte kort ná die voorval in hegtenis geneem en ’n tweede Saterdagoggend. Albei mans is in hul twintigs en sal binnekort in die hof verskyn.

Du Toit se vrou het eers Saterdagmiddag van haar seun se heengaan verneem omdat sy Donderdagaand ’n vier en ’n half uur lange operasie ondergaan het.

Hy het die dood op sy seun as onnodig en sinneloos beskryf.

“Hy het gewerk vir die gemeenskap.

“Hy het in belang van die hele gemeenskap opgetree – dit is al wat hy gedoen het. Hy wou net inwoners beskerm.”

Alec, wat as ’n verkoopsman vir ’n motorhandelaar gewerk het, was alom bekend as ’n vriendelike en saggeaarde mens wat almal net wou help. “Hy moes agt hande gehad het, hy moes ’n seekat gewees het.”

’n Nagwaak is Saterdagaand vir hom gehou. Een van sy klante het van Piketberg gery om dit by te woon.

Die begrafnisreëlings moet nog gefinaliseer word.

http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/twee-vas-na-buurtwaglid-in-hart-gesteek-is-20170806