Thursday, August 24, 2017

Gevaar op Suid-Afrika se plase



Die veiligheidsituasie op Suid-Afrikaanse plase raak by die dag meer benard, met plaasmoorde en -aanvalle wat vanjaar drasties toegeneem het. Plaasaanvalle wat tot op hede vanjaar drasties meer is as in 2016.

Volgens mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van die TLU SA se veiligheidskomitee, het 282 plaasaanvalle van Januarie 2017 tot 22 Augustus voorgekom; 56 mense is dood in dié aanvalle. ‘n Skokkende 28 aanvalle en sewe moorde het tot dusver in Augustus voorgekom.

In vergelyking hiermee het 244 plaasaanvalle in dieselfde periode in 2016 voorgekom, waarin 49 mense dood is.

In die afgelope week alleen het daar ‘n totaal van agt aanvalle in slegs vier dae plaasgevind, wat gelei het tot vermanings uit talle oorde vir boere om hulself te beskerm en veiligheidsmaatreëls op plase op te skerp. Ses van die aanvalle het op plase voorgekom, terwyl twee op hoewes in landelike gebiede plaasgevind het.

Regte benadering
Mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, waarsku dat ‘n houdingsverandering uiters belangrik is vir boere se voortbestaan.
“Dit is nie ‘of dit met my gaan gebeur nie’, dit is ‘wanneer dit met my gaan gebeur’. Dit is ongelukkig die benadering wat ons moet hê,” sê Cameron.

In die nuutste aanval is mnr. Anton Muller gister (22 Augustus) tussen 01:30 en 02:00 op ‘n hoewe tussen Springs en Delmas aangeval.

“Vier aanvallers, waarvan drie gewapen was, het Muller vasgebind en gemartel. Hy is met ‘n strykyster gebrand. Die aanvallers het hom later deur sy huis gevat, verder gemartel en geld geëis,” sê Cameron.

Die aanvallers het ‘n Playstation en ‘n boor gesteel. Cameron sê pro-aktiewe optrede, beter kommunikasiestelsels en voldoende veiligheidsmaatreëls kan boere help beskerm teen die vlaag van geweld.

Landelike veiligheid
Volgens mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se landelike beveiligingskomitee, sê die organisasie is bekommerd oor die toename in plaasaanvalle en misdaad wat in landelike gebiede plaasvind. Hy raai boere aan om by die implementering van die landelike veiligheidstrategie betrokke te raak.

Dié strategie, wat in 2012 ingestel is, maak voorsiening vir plaaswagte wat in samewerking met die polisie misdaad kan bekamp en voorkom. “Die gemeenskap kan aansluit by plaaswagstelsels wat binne die raamwerk van die wet optree om misdaad te voorkom,” sê hy.

Cameron sê misdaad en aanvalle gaan in toeneem as gevolg van werkloosheid. “Ons moet waaksaam wees,” sê hy. Hy waarsku ook teen gemaksones. “Waar iemand op sy gemak is, is hy op sy kwesbaarste en daar kan hy die seerste kry,” sê hy.

Bron: Landbou.com
https://www.agrisa.co.za/gevaar-op-suid-afrika-se-plase/?lang=za