Friday, July 21, 2017

Man (60) se kop met byl oopgekloof in De Wildt-plaasaanval

Man (60) se kop met byl oopgekloof in De Wildt-plaasaanval

‘n Sestigjarige man se kop is met ‘n pik oopgekloof na twee rowers hom in plaasaanval in De Wildt vroeg Vrydagoggend oorval het.

Daleen van Manen | 21 Julie 2017


Albert Louw is ongeveer 02:30 deur die rowers in sy huis op ‘n plaas op die R511 in De Wildt oorrompel, maar het verbete terugbaklei tot die rowers gevlug het.

Louw was nog wakker aangesien daar sowat ‘n uur vroeër ‘n poging tot inbraak by die huis was.

“Ongeveer 01:00 het Albert wakker geskrik van geluide in die huis. Hy het gaan ondersoek instel en ontdek dat ‘n venster se diefwering geknip is en die venster oop was. Hy het my gekontak en ons is na buite om ondersoek in te stel en die ligte aan te sit, maar het niks gesien nie,” het sy broer, Phil Louw, wat op dieselfde plaas woon, gesê.

Albert het eers koffie gemaak voor hy weer in die bed gaan klim het en was nog wakker toe hy hoor hoe ‘n venster breek. Hy het opgespring en die rowers, gewapen met ‘n pik, het deur ‘n groot venster gebars en op hom afgestorm.

“Die rowers het eers ‘n swaar voorwerp na hom gegooi maar gemis, en hom toe met die pik oor die kop geslaan. Albert het met die rowers gestoei en het dit reggegry om die pik af te vat. Hy het hulle gedreig en intussen daarin geslaag om die alarm te aktiveer en tot in die badkamer te kom waar hy homself toegemaak, en my gebel het.”
Phil het om hulp op die radio van die plaaslike De Wildt Helpmekaar-beveiligingsgroep geroep. Inwoners in die omgewing en sekuriteitsdienste was kort na die voorval op die toneel, maar die rowers het gevlug.

Albert is tans in die George Mokhari-hospitaal en sy toestand is nog onbekend .

Die polisie soek na die rowers.

Bron: Kormorant
http://kormorant.co.za/31586/man-60-se-kop-met-byl-oopgekloof-de-wildt-plaasaanval/