Friday, July 21, 2017

Boer in plaasaanval met tuinvurk gesteek

’n Boer van die Theunissen-distrik in die Vrystaat word in ’n Bloemfonteinse hospitaal behandel nadat hy Donderdagaand ten tyde van ’n plaasaanval glo verskeie kere met ’n tuinvurk gesteek is.



Drie aanvallers het Louis Kotze (54) en sy vriendin, van die plaas Kopfbrunen tussen Theunissen en Winburg, in hul huis ingewag en omstreeks 18:15 met hul tuiskoms aangeval.

Dit is die vierde plaasaanval in die Vrystaat sedert 13 Julie.

Dit is onseker hoe hulle toegang tot die huis verkry het.

Een van die aanvallers het Kotze met die vurk in die bors gesteek, terwyl ’n ander een sy vriendin op die grond vasgedruk het.

Kotze het hom na bewering teëgesit en sy vriendin probeer help toe die aanvaller hom weer met die vurk in die rug gesteek het.

Hy is vier keer met die tuinvurk gesteek en het 16 steekwonde opgedoen. Hy het ook wonde aan sy gesig en het bloeding op een van sy longe opgedoen.

Kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, sê die rowers het twee sakke vol artikels, waaronder klere, gevat en weggehardloop. Kotze het daarna vir sy vriendin geskree om die polisie te bel.

Alani Janeke, woordvoerder van Vrystaat Landbou (VL), sê die polisie en boere van die omgewing was vinnig op die toneel.

“Die noodplan is geaktiveer en 50 boere in 30 voertuie van Theunissen en Winburg het die gebied gepatrolleer op soek na die aanvallers. Die vrou se handsak met juweliersware daarin is teruggevind,” sê sy.

Koos Pienaar, VF Plus-raadslid in die Masilonyana-munisipaliteit, sê dit is onaanvaarbaar dat weerlose mense aangeval word.

“In watter soort omstandighede leef ons boere om blootgestel te word aan sulke dinge? Wat kan boere nog doen om hulle teen dié aanvalle te beskerm?

“Mense besef nie die impak van die aanvalle op die moraal van boere en die gemeenskap nie. Die regering moet sterker standpunt teen dié misdaad inneem,” sê hy.

Volgens hom skep die huidige politieke klimaat ’n situasie waarin mense doen wat hulle wil omdat die politieke leierskap ook korrup is.

Barbara Steenkamp, woordvoerder van die Mediclinic Bloemfontein, het bevestig Kotze word in die hospitaal behandel en dat dit goed gaan met hom.

Khosana sê ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek.

* Op 13 Julie was daar ’n aanval op ’n kleinhoewe in Oranjeville en vier dae later is ’n kleinhoewe in Navalsig, Bloemfontein, aangeval. Die derde aanval was op 19 Julie op ’n plaas in Rosendal. In al die voorvalle is werkers aangeval, vasgebind en beroof. Selfone, tablette, TV’s, kontant, juweliersware en ’n sleepwa is gebuit

Bron: Netwerk 24
http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/boer-in-plaasaanval-met-tuinvurk-gesteek-beroof-20170721#