Sunday, February 19, 2017

Man steeds vermis ná KZN-plaasaanval

19 Februarie 2017
Maroela-redaksie


Roger Solik (63) word steeds vermis nadat hy en sy vrou Vrydag op hul plaas in die Nottingham Road-omgewing in KwaZulu-Natal aangeval is. Christine (56) se liggaam is later die dag gevind.

“Die Nottingham Road-polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof,” het lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media bevestig. “Bure het Vrydag na die huis gegaan om ondersoek in te stel toe die egpaar nie enigsins gesien is of hul selfone geantwoord het nie.”

Volgens Zwane het die bure, met hul aankoms, gesien daar is by die huis ingebreek en die polisie is ontbied. “Polisiebeamptes het bloedvlekke in die huis opgemerk. Die egpaar is aangerand en ontvoer.”

Die Impendle-polisie het later die liggaam van ʼn vrou gevind. Haar hande was vasgebind. Maroela Media verneem Christine se liggaam is in die Inzinga-rivier gevind.”

Die egpaar se motor is by Taylors Halt gevind. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor waar Roger homself bevind, om dadelik met hulle in verbinding te tree. Hy ly na bewering aan Alzheimer se siekte.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/man-steeds-vermis-na-kzn-plaasaanval/