Sunday, February 19, 2017

Egpaar kritiek ná Dullstroom-plaasaanval



Robert Lynn is in ʼn kritieke toestand en sy vrou, Sue Howarth, in ʼn bedenklike toestand in die Life MidMed-hospitaal in Middelburg, hospitaal ná hulle gemartel is tydens ʼn aanval op hul plaas in Dullstroom.
David Spohr, Belfast se AfriForum-takvoorsitter, het aan Maroela Media bevestig die egpaar is Sondagoggend omstreeks 02:00 oorval.

“Twee egpare, Robert en Sue en Alan en Claire Taylor, woon op die plaas March Land, ongeveer 10 minute buite Dullstroom,” het Spohr verduidelik. “Hulle is almal in hul 60’s en albei egpare is oorspronklik van die Verenigde Koninkryk. Hulle woon egter reeds minstens 30 jaar lank in Suid-Afrika. Hulle het nie kinders nie.”

Volgens Spohr het Sue vermoedelik wakker geword, want sy was nie in die kamer toe Robert wakker geword het nie. “Die aanvallers het geld geëis, en toe Robert vir hulle sê daar is moontlik geld in ʼn ander vertrek, was Sue reeds erg aangerand toe hulle haar in daardie kamer aantref.”

Spohr het gesê die aanvallers het met die egpaar in hul Nissan Hi-Rider-bakkie weggery. “Hulle het Robert, met ʼn blinddoek oor sy oë, in die bos afgelaai. Hy kon eers, toe die son opgekom het, homself loswikkel en na die pad toe stap. Daar het hy Sue langs die pad aangetref.”

Volgens Spohr het daar motors verby die beseerde egpaar gery, maar nie stilgehou nie. Iemand het uiteindelik verbygery en het in Belfast hulp ontbied. “ʼn Veiligheidsmaatskappy het na die toneel gehaas en die egpaar aangetref. ʼn Plastieksak was om Sue se nek gebind en sy het begin versmoor. Robert was getraumatiseer en het waarskynlik nie besef Sue sukkel om asem te haal nie. Die veiligheidsbeampte het dadelik die sak losgesny en Sue het weer begin asem haal. Hulle is in ʼn ambulans na Belfast-hospitaal geneem voor hulle na Life MidMed-hospitaal oorgeplaas is.”

Robert het verskeie steekwonde in sy rug en bene en is vermoedelik ook met ʼn blaasvlam gebrand. Sue is steeds in ʼn koma.
Volgens Spohr is die egpaar se skootrekenaars nie gesteel nie en daar was ook ʼn goue borsspeld en ring langs die bad.
Adj. Willem Haugh, ondersoekbeampte van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. “Die egpaar is deur drie persone aangeval en gemartel. Hulle is langs die Stoffbergpad afgelaai,” het hy gesê. “Hulle is omstreeks 07:30 vanoggend gevind. Die aanvallers het met ʼn klein bedrag kontant en die egpaar se Nissan Hi-Rider gevlug.”

Volgens Haugh het die aanvallers vermoedelik deur ʼn venster ingebreek.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Spohr het gesê Robert was ‘n ingenieur by Eskom en Sue het vermoedelik by ‘n beleggingsmaatskappy gewerk voor hulle afgetree en na Dullstroom verhuis het.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/egpaar-kritiek-na-dullstroom-plaasaanval/