Showing posts with label Moord. Show all posts
Showing posts with label Moord. Show all posts

Sunday, June 24, 2018

MOORD te BFN, opvolg: Polisie lê beslag op selfoon van minderjarige na aan Mans

Deur Suzanne Venter
24 Junie 2018 00:01

’n Roudiens is gister vir Natasha Mans (41) gehou by die Ou Apostoliese kerk in Bloemfontein-Wes. Foto: Verskaf

Die polisie wat die moord op Natasha Mans ondersoek, het Vrydag beslag gelê op die selfoon van ’n minderjarige wat na aan haar was.

Volgens mense in die binnekring het die kind ’n bohaai daaroor opgeskop, maar die pa het die foon toe aan die polisie gegee.

Die polisie se forensiese span het ook monsters geneem by ’n gat wat in die straat voor die oorledene se huis in Groenvlei, Bloemfontein, ontdek is. Die gat is glo vars gegrawe.

Mans (41) het saam met haar kêrel, Dennis Casten (48), in dié huis gewoon.

Sy het op 31 Mei verdwyn nadat sy glo gaan stap het. Haar lyk is 13 dae later in die erf van haar huis gekry. Sy is vermoedelik op die dag van haar verdwyning vermoor, in ’n vrieskas gehou en toe later geskiet en op die erf gelos.

Familie en vriende van Mans het Saterdag ’n roudiens vir haar bygewoon in die Ou Apostoliese kerk in Melvillerylaan, Bloemfontein-Wes. Sy is reeds Donderdag veras. Priester Werner Piechazek, wat in 2015 haar 15-jarige dogter begrawe het nadat sy verkrag en vermoor is, het ook dié diens waargeneem.

Daar was geen toesprake by die diens nie. In die begrafnisbriefie was daar ’n boodskap van haar seun, Braam Koekemoer (16).

“Daar is nie woorde hoe ek oor ma voel nie . . . ma was die een wat altyd daar was vir my, my opgetel het waar ek geval het . . . die een wat net die beste vir my wou gehad het,” het hy geskryf.

Hy het ook geskryf: “. . . wens daar kon net nog een kans wees wat ons net kon praat oor als . . .”

Braam het vir jare saam met sy pa in Namibië gebly, maar hulle het onlangs Vrystaat toe getrek sodat Braam nader aan Natasha kon wees.

Natasha het nog ’n seun, Anroux Botha (8), wat by sy pa, Johan Botha, in Bloemfontein bly. Op die begrafnisbriefie was daar ’n prentjie van ’n blom in ’n blompot wat hy vir sy ma geteken het met die woorde: “Lief vir Mamma. Ek gaan vir Mamma mis.”

Volgens bronne in die binnekring is daar kwade gevoelens tussen van Mans se familie en Casten. Sommige familielede wou nie hê hy moet die roudiens bywoon nie, maar hy was wel daar. Hy kry glo baie swaar en het telkemale tydens die diens in trane uitgebars.

Mans het ’n koeëlwond in die bors gehad toe sy gevind is.

Haar dood het aanvanklik soos ’n selfmoord gelyk, maar dit het later geblyk die .375 Magnum-rewolwer wat by haar lyk gekry is, is nie die vuurwapen waarmee sy geskiet is nie.

Verskeie mense wat naby aan Mans was, het aan
Rapport gesê sy en die minderjarige wie se selfoon gekonfiskeer is, het gereeld vasgesit.

“Sy (Natasha) het my meer as een keer in trane gebel en vertel van hul verskriklike uitvalle. Sy het gesê sy sal nie verbaas wees as die persoon ooit probeer om iets aan haar te doen, soos om haar te vergiftig nie.”

Bron: Rapport
suzanne.venter@rapport.co.za
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/polisie-le-beslag-op-selfoon-van-minderjarige-na-aan-mans-20180623


Saturday, June 23, 2018

Plaasmoord: Bekende Bolandse aarbeiboer vermoor

Deur Jana Breytenbach
23 Junie 2018 19:00

Jeffrey Zetler Foto: Mark Wessels

Jeffrey Zetler (62), een van die bekende aarbeiboere van die Boland, is Saterdag op sy plaas, Mooiberge, vermoor.

Zetler was glo by sy kantore in die Brakelsdal-gebied naby Stellenbosch toe hy aangeval is.

Zetler hou sy geld by dié kantore wat steeds deel is van Zetler se eiendom. Hy is na verneem word gesteek en het aan sy wonde beswyk.

Na verneem word is dit ook Saterdag Zetler se vrou, Beverley, se verjaarsdag. Hulle het twee dogters wat nie op die plaas woon nie.
’n Ingeligte sê Zetler het glo van die werkers betaal, en die moontlikheid bestaan dat mense wat aan hom bekend was by die moord betrokke kon wees.

Hy is al vier keer tevore in sy kantoor beroof en het elke keer oorleef.

Zetler het in 2007 die vierde rooftog op sy plaas oorleef. Destyds is berig dat die gewapende rowers hom oor ’n naweek in sy inloopkluis vasgebind en sy motor gekaap het om weg te kom. Twee rowers is nie lank daarna nie aangekeer.

In die voorval in 2007 het tydelike werkers hom ingewag en in die kluis voorgekeer. Van hul makkers het buite wag gehou.
Destyds het hy vertel dat hy met die Here se hulp kalm gebly het.

Die rowers het hom op die grond laat lê. Die plaasbestuurder wat op die toneel aangekom het, is ook oorval.

Die rowers het met sy bakkie, kontant en ’n geweer gevlug. Die geweer is later buite die gebou gevind.

Bron: Netwerk24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/bekende-bolandse-arbeiboer-vermoor-20180623

Thursday, June 21, 2018

Mans moet opstaan oor Natasha Mans



Natasha.

Dis vreemd om ’n brief aan iemand te rig wat reeds dood is. Maar jy is nie die waspop wat skielik grys op die grasperk opduik voor ’n huis in Groenvlei nie.

Presies twee weke nadat jy kamstig weggestap het met die as van jou lieflingdogter, Noeline Koekemoer (15), duik jy op ’n mistige oggend op met miljoene vrae vir ons.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word. Elke minuut van elke dag in dié land.

Groenvlei is nou Stella, waar Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht in die koshuis verwurg is. Dan is daar ook Mooinooi waar Joey en Anisha van Niekerk vermoor en hul lyke uitgebrand is.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word.

Terwyl jy, Natasha, nog gerou het oor Noeline, ’n skoolmeisie in die fleur van haar lewe, wat in jul klein woonstel in Bainsvlei vermoor is, is jyself vermoor. En dit naby Nien, soos jy haar in jou laaste brief genoem het, se as in die kas in die huis.

Het jy daardie laaste oomblik aan haar gedink? Of uitgereik na die as, wat al troos vir jou was in die drie lang jare? Maar jou lyding en dood is besig om ’n woede onder baie mense te ontketen. Hoekom moes een vrou soveel deurmaak, en die moord in ’n kombers van leuens, bedrog en oëverblindery versteek word?

Want iemand het baie moeite gedoen om dit na selfmoord te laat lyk. En dit is seker die laagste van dié mense wat nie mans genoeg was om pa te staan vir jou, Natasha Mans, se moord nie. Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg. Tot jy presies 14 dae ná jou “verdwyning” op die grasperk 30 m van julle huis opgeduik het.

Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg.

Soos die polisiehelikopter die dae ná jy sou verdwyn het na jou gesoek het, is die ondersoekspan besig om die sirkel in die omgewing te fynkam op soek na die plek waar die moordenaars jou lyk weke lank gevries het.

Jy sou dit wou weet, Natasha, as dit iemand anders was wie se moord soveel raaisels het. Soos jy bly bid en hoop het ná Noeline se moord dat geregtigheid sal geskied. Al is dit vir baie ’n skrale troos. Want van daardie kol in die geel gras voor die huis in Groenvlei, waar die verskriklike daad glo gebeur het, kom die leidrade een vir een aan die lig.

Hoekom het iemand voorgegee jy het selfmoord gepleeg – terwyl jy ná jou dood dalk geskiet is? Of dalk nie. Dalk is die wond ’n steekwond. Die raaisels – en die leidrade – word by die dag meer. Want iewers volgende week as jy, Sunshine, soos jy jouself in die brief genoem het, in ’n geheime begrafnis ter ruste gelê word, moet daar ’n deurbraak kom in die ondersoek. Dis ’n klein troos vir baie, maar dis iets.

Rus sag, Natasha en Noeline.

Ons mans in die land het baie vrae om te antwoord oor julle en al die vroue wat ly.



Bron: Charles Smith | 21 Junie 2018 00:01

Netwerk24

https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/mans-moet-opstaan-oor-natasha-mans-20180620

Natasha ‘in ander klere gevind’


Deur André Desmonds | 20 Junie 2018 20:53



Natasha Mans en haar vriend Dennis Casten. Foto: Facebook

Die vermoorde Natasha Mans het nie meer die klere aangehad waarin sy as vermis aangemeld is toe haar lyk onder ’n boom in haar vriend se erf in Groenvlei, Bloemfontein, gevind is nie.

Die polisie het Woensdag vir die eerste keer bevestig Mans (41) se lyk is gevind in ander klere as dié wat sy sou gedra het toe sy op 31 Mei as vermis aangemeld is. 

Haar vriend Dennis Casten het haar as vermis aangemeld en het sowat twee weke daarna op haar lyk onder ’n boom in sy erf afgekom.

Intussen het die Valke in Bloemfontein bevestig hulle sal nou die ondersoek na Mans se dood oorneem. 

Kapt. S’fiso Nyakane, Valke-woordvoerder, het Woensdag gesê die Valke gaan die saak verder ondersoek, hoewel hulle nog nie die dossier ontvang het nie. 

Die polisie het ook by monde van kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, gesê die lykskouing is reeds afgehandel, maar hulle wag nog op ’n omvattende verslag van die patoloog. 

Mans is glo Woensdag veras met ’n gedenkdiens wat Saterdag sal volg.

Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het met haar verdwyning ’n denimbroek en ’n sweetpakbaadjie aangehad het. Die organisasie Pink Ladies het dieselfde beskrywing versprei.

Volgens Marope was Mans se lyk geklee in ’n swart en grys trui, ’n swart noupassende broek en swart stewels.

Hy het ook bevestig dat ’n intensiewe soektog begin is na die presiese plek waar Mans vermoor is, omdat die polisie “ ’n sterk vermoede” het dat sy moontlik op ’n ander plek vermoor is. 

Volgens ’n bron word ook na voertuie gesoek wat moontlik gebruik is om Mans se lyk te vervoer. 

Voorts probeer die polisie vasstel of daar vreemde mense in die omgewing was op die dag toe sy “verdwyn” het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het nooit by die erf uitgestap die dag toe sy sou verdwyn het nie. Sy is vermoedelik dieselfde dag nog vermoor. 

Marope sê dit is nog nie bekend watter soort vuurwapen gebruik is om haar te skiet nie, omdat die polisie steeds wag op die ballistiese uitslae. 

“Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het,” sê Marope.

Volgens Marope het Mans op haar rug gelê met haar gesig na bo.

Bron: Netwerk24

Wednesday, June 20, 2018

Natasha dalk op dag van verdwyning vermoor

Natasha dalk op dag van verdwyning vermoor
Deur André Desmonds | 19 Junie 2018 20:28

Natasha Mans is vermoedelik dieselfde dag as waarop sy spoorloos verdwyn het, vermoor en haar lyk iewers in ’n vrieskas gehou.

Mans (41), wat nog voor haar dood hondeklere gemaak het, se lyk is ’n week gelede in haar vriend, Dennis Casten, se erf in Groenvlei naby Bloemfontein gevind.

Casten het haar op 31 Mei as vermis aangemeld. 

Terwyl die raaisel oor Mans se moord verdiep, het die polisie ’n sluier van geheimhouding oor die ondersoek getrek. ’n Reeks tergende vrae hang egter oor die moord.

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie kan nie verdere inligting bekend maak nie omdat dit moontlik hul ondersoek kan belemmer.

“Daar is geen nuwe verwikkelinge nie. Die nadoodse ondersoek sal waarskynlik vandeesweek afgehandel word,” is al wat hy wou sê.

’n Bron sê die moontlikheid bestaan dat Mans waarskynlik reeds op die dag van haar verdwyning vermoor is, maar eers later op die plek gelos is waar haar lyk sowat twee weke later gevind is.

Mans is op 13 Junie met ’n skietwond in haar bors en ’n rewolwer langs haar lyk onder ’n boom gevind. Haar lyk is vermoedelik in ’n vrieskas gehou voordat sy op die plek waar sy gevind is, gelos is.

Van die vrae waarvoor die polisie nou moet antwoorde kry, sluit in:

+ Waar is die vrieskas waarin Mans gehou is voordat haar lyk in Castenweg gelos is?

+ Hoeveel mense is betrokke by die moord, want dit sou waarskynlik moeilik wees vir een mens om ’n bevrore lyk uit die vrieskas te haal?

+ Was daar enige vreemde mense in die omgewing op die dag van haar verdwyning?



+ As die rewolwer wat by haar lyk gevind is, nie die moordwapen is nie, waarmee is sy geskiet?

+ Hoekom het Mans nie dieselfde klere aangehad toe sy gevind is as dié waarin sy vermis geraak het nie?

Ben Mans, Natasha se broer, sê geen besonderhede van die begrafnis gaan bekend gemaak word nie.

“Ons is geskok. Dit is ’n moeilike tyd vir ons, want ons weet self nie wat aangaan nie.”

Mans, wat met Casten in ’n verhouding was voor haar dogter, Noeline Koekemoer (15), se dood, se lyk is sowat 15 km van die kleinhoewe in Bainsvlei af gekry waar hulle gebly het toe Noeline in April 2015 vermoor is.

Casten het gesê hy het “niks om te sê vir julle sensasiesoekers nie”.

“Ek dien ’n God van waarheid. Jesus sal die waarheid ontbloot,” sê hy.

Die ondersoek duur voort en die polisie het nog geen verdagtes nie.

Bron: Netwerk 24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/natasha-dalk-op-dag-van-verdwyning-vermoor-20180619

Tuesday, August 30, 2016

ONDERHOOF 9 KEER GESKIET: STERF IN HOSPITAAL WEKE LATER


ONDERHOOF 9 KEER GESKIET: STERF IN HOSPITAAL WEKE LATER

Johan du Toit. Foto: Netwerk24

POSTED BY: ARMAND CLOETE 30/08/2016

Die onderhoof van Hoërskool Akasia, is vanoggend oorlede nadat hy in Junie tydens ’n huisroof in Pretoria nege keer geskiet is.

Die 57-jarige Johan du Toit se vrou, Retha, wat ’n onderwyseres by dié skool is, het bevestig dat haar man ná meer as 12 weke in die hospitaal dood is.

Du Toit het verlede week begin vordering maak toe hy vir die eerste keer in twaalf weke sy bewussyn herwin het.


Http://100punt6.co.za/onderhoof-9-keer-geskiet-sterf-hospitaal-weke-later/
-------
Johan du Toit (57), onderhoof van Hoërskool Akasia, is Dinsdagoggend oorlede nadat hy in Junie tydens ’n huisroof in Pretoria nege keer geskiet is.
Sy vrou, Retha, ook ’n onderwyseres by dié skool, het Dinsdagoggend bevestig dat haar man ná meer as 12 weke in die hospitaal dood is.
Du Toit het verlede week begin vordering maak toe hy vir die eerste keer in 12 weke wakker geword het.
Hy was tot verlede week nog onder verdowing.
Een van die koeëls is uit Du Toit se liggaam verwyder en die ander agt is dwarsdeur hom.
Du Toit is geskiet toe hy die drie rowers in sy huis in Pretoria-Noord op heterdaad betrap het.
Kapt. Rheineth Motlana, polisiewoordvoerder, sê die rowers het die deur met ’n koevoet oopgebreek. Hulle het net ’n plasma-TV gebuit, het Netwerk24 vroeër berig.
Retha het haar dankbaarheid uitgespreek vir die liefde en ondersteuning vanuit die gemeenskap.

“Veral dankie aan die dokters van die Eugene Marais-hospitaal.”

http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/onderhoof-sterf-na-hy-9-keer-geskiet-is-20160830

Tuesday, August 23, 2016

Moord: Jong Pretorianer sterf tydens heldedaad

Jong Pretorianer sterf tydens heldedaad
23 Augustus 2016
Phillip Bruwer


Reinhard Louw (21). Foto: Verskaf

Agtien dae nadat Reinhard Louw sy mondigwording gevier het, het hy met sy lewe geboet om dié van ʼn 63-jarige vrou, by wie hy die afgelope drie jaar woon, van ʼn groep gewapende mans te red.
Louw, ʼn Pretorianer wat in 2013 aan die HTS John Vorster matrikuleer het, het ná skool toelating by Imperial Auto se ambagskool gekry en verder as ʼn petrolwerktuigkundige studeer, terwyl hy by Mercedes Benz East Rand in Boksburg gewerk het.
Hy het gedurende die week in ʼn gastehuis naby sy werk gebly, waar die tragedie hom Vrydag omstreeks 11:50 afgespeel het. Hy het gewoonlik Vrydae teruggery na sy ouerhuis in Villieria om naweke daar deur te bring.
“Reinhard is onlangs deur sy ambagskool gekies om aan die World Skills-kompetisie deel te neem. Dit was vir hom ʼn groot voorreg om vir die geleentheid gekies te word. Dit is soos die Olimpiese Spele vir mense wat ambagte beoefen,” het sy ma, Carina, Dinsdag aan Maroela Media gesê.
Sy het vertel Reinhard het Vrydagoggend sy eerste proewe vir dié kompetisie in Germiston gaan aflê en is daarna terug na die gastehuis om sy klere in te pak, sodat hy ná werk direk van daar Pretoria toe kon ry.
Reinhard het by die gastehuis se veiligheidshek uitgery net toe die eienaar, Nita Pienaar, in die oprit na die huis stilgehou het nadat sy by die bank was. ʼn Ander motor het langs haar stilgehou en sy is vermoedelik deur vier vermeende kapers oorweldig.
“Hy het besef wat aangaan en sy reflekse het oorgeneem. My seun is presies soos wat sy naam aandui, ʼn mens met ʼn rein hart. Hy het vir drie dinge, die Here, mense en geregtigheid gelewe en daarom het hy instinktief opgetree om Nita te help.”
Hy het vorentoe gery om die kapers van Nita weg te keer en het moontlik een van die aanvallers en hul voertuig gestamp, voordat een van hulle hom deur die windskerm doodgeskiet het. Ná die doodskoot het sy motor nog vorentoe beweeg en oor Nita gery.
Die kapers het met leë hande van die toneel gevlug. Reinhard is op die toneel dood verklaar en Nita is na ʼn hospitaal geneem, waar sy tans aansterk.
“Sy herstel goed en ons dank die Here daarvoor. Ons was vanoggend by haar en sy is nog getraumatiseerd. Sy het gesê as die nie vir Reinhard se optrede was nie, was sy dood.”
Die groep se verwoestingstog het egter nie daar geëindig nie. Kapt. Juanita Coetzer, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê aangesien die wegkommotor herkenbaar was aan die stampmerk, het die aanvallers in Jetpark ʼn motor van ʼn veiligheidsmaatskappy gekaap. Hulle het tot by ʼn taxistaanplek in Kemptonpark gery, die voertuig daar gelos en in ʼn taxi verder gevlug. Die veiligheidswag is nie tydens die kaping beseer nie.
“Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en motorkaping. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie het goeie leidrade wat opgevolg word en die ondersoek duur voort,” het Coetzer gesê. Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die verdagtes Nita moontlik van die bank af agtervolg het.
Carina het gesê Reinhard sal altyd onthou word as iemand wat voluit en tot eer van die Here geleef het. Die gesin vind vertroosting in die wete dat hy in die Hemel is. “Hy het gesterwe net soos hy gelewe het, vir mense, geregtigheid en tot die eer van die Here.”
Reinhard se begrafnis vind Donderdag om 14:00 by die Heatherdale-begraafplaas in Pretoria-Noord plaas. Die troosdiens volg om 15:30 by die Gereformeerde Kerk Totiusdal in Waverley.
Hy laat sy ma, pa, Alwyn, suster, Nerine (17) en grootouers, Gerrie en Rina van Aswegen, agter.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/jong-pretorianer-sterf-tydens-heldedaad/

Monday, August 22, 2016

Man op kleinhoewe in plaasdorpie doodgeskiet

22 Augustus 2016
Phillip Bruwer

Johan van Rensburg. Foto: Verskaf

Met sy laaste asem het Johan van Rensburg (62) verbete teen ʼn groep aanvallers geveg om sy verloofde, Dina, op hul kleinhoewe in die plaasdorpie, Sundra, in Mpumalanga te beskerm.
Wilma Botha (34), Van Rensburg se gebroke dogter, het Maandag aan Maroela Media gesê sy vind ʼn bietjie berusting in die feit dat haar pa soos ʼn held gesterf het.
Botha verduidelik ʼn buurvrou wat skuins agter haar pa woon, is Vrydag tussen 18:00 en 19:00 vermoedelik deur vier mans op haar kleinhoewe aangeval waartydens sy met ʼn graaf aangerand is. Die mans het laat spaander toe die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, ontbied is.
Van Rensburg, ʼn plaaslike houtkapper en -verkoper, en Dina het omstreeks 19:30 niksvermoedend by hul huis opgedaag.
“Hulle het net by die huis aangekom en uitgeklim toe my pa sien daar kruip mense agter hul vragmotor weg. Hy het vir tannie Dina beveel om in die huis in te gaan en het hulle afgeweer sodat sy genoeg tyd gehad het om in die kombuis in te gaan en die deur te sluit. My pa het met hulle gestoei en twee skote het afgegaan, een skoot het hom in sy kop getref,” het Botha gesê.
Die buurtwag, polisie en paramedici van ER24 was nog op die toneel van die eerste misdaad toe hulle die skote gehoor en gaan ondersoek instel het. Van Rensburg is op die toneel dood verklaar. Dina is ongedeerd maar getraumatiseerd. Die buurvrou is na die waakeenheid van ʼn nabygeleë hospitaal geneem.
Hennie Greeff, die buurtwag se voorsitter, het die voorvalle aan Maroela Media bevestig en gesê ondersoek word ingestel om te bepaal of dieselfde groep met albei voorvalle verbind kan word.
“ʼn Verdagte is Vrydagaand aangekeer en vir ondervraging na die Sundra-polisiestasie geneem,” het hy gesê.
Buurtwaglede het met die hulp van twee veiligheidsmaatskappye, die polisie en die Valke Vrydagaand en Saterdag na nóg verdagtes in die omgewing gesoek. Die soektog duur voort.
Dit is nie bekend of enigiets tydens die twee voorvalle gesteel is nie. Die Sundra-polisiestasie ondersoek die voorval. Maroela Media het die polisie genader vir kommentaar en wag nog vir terugvoer.
Botha het gesê sy sal haar pa as ʼn held onthou. “Hy was ʼn hero wat sy lewe gegee het om tannie Dina te beskerm, wat ʼn aanduiding gee van die goeie mens wat hy was. Hy het altyd baie hard gewerk om vir ons te sorg. Selfs in tye wat ons swaar gekry het, sou hy die min wat hy gehad het met ander mense deel. Hy het ʼn hart van goud gehad,” het sy gesê. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Greeff is vol lof vir die polisie en almal wat Vrydagaand saamgestaan en help soek het. Hy het sy innige dank en waardering teenoor die buurtwaglede, die polisie, die Valke, ER24, Maksimum Sekuriteit en AAA Sekuriteit betuig.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/man-op-kleinhoewe-in-plaasdorpie-doodgeskiet/

Wednesday, August 17, 2016

Opvolg:Moord op Poena Botes (68)

Moord op Poena Botes (68) opvolg:
Inwoner van Vanderbijlpark doodgesteek
VANDERBIJLPARK. – Volgens die polisie is huisrooftogte aan die toeneem en wat egter kommerwekkend is, is dat sommige van die rowe noodlottig eindig soos wat Vrydagaand in Bonanné gebeur het.
Jannie du Plessis | 17 Augustus 2016

Volgens inligting het Poena Botes (68), werknemer by ’n elektriese kontrakteur in Sasolburg, Vrydagmiddag 12 Augustus ongeveer 21:00 by sy huis aangekom in Krystalstraat 33, Bonanné. Terwyl hy in die huis ingestap het, het hy ‘n selfoonoproep ontvang waarna hy na buite gestap het met die sleutels van sy ander voertuig, ‘n Mercedes. Hy is buite by die motor deur die rowers oorval toe hy vermoedelik iets uit die voertuig gaan haal het wat verband gehou het met die oproep en hy die rowers daar betrap het. Die radio was uit die voertuig gesteel.
‘n Struweling het onstaan waarna Poena verskeie kere met ‘n mes gesteek is. Poena het volgens inligting meswonde in die bors en nek gehad en sy keel was gesny. Hy is langs die huis by die Mercedes gevind met die sleutels van die motor nog in sy hande.
Poena se vrou, Sarah (47) was volgens inligting ook vasgebind en aangerand in die huis. Die rowers het Sarah se vyfjarige kleinkind na sy kamer gestuur. Na die voorval het Sarah haar kleinkind gestuur na die kombuis om ‘n mes te gaan haal om die toue los te sny. Sarah was baie geskok om haar man te verloor en dit nadat sy net die week tevore haar ma aan die dood afgestaan het.
Die booswigte is weg met Poena se ander voertuig, ‘n wit SsanYong Musso wat sowat drie ure later in Boipatong opgespoor is. Ander items soos sy selfoon en artikels in die voertuig was ook gesteel. Volgens Bernadette Erasmus, vriendin van die gesin, het die rowers die koskaste en vrieskas gestroop. Klein artikels soos potte en panne in die huis is ook geroof. Bryanette Landman Havenga, jarelange vriend van die Botes-gesin het op facebook geskryf: “Jou bloed skreeu,” wat duidelik is dat die moorde in ons dorp nou egter hand uitruk.
Bryanette vertel die Botes-familie was gereeld geteister met inbrake. Op 9 Augustus, ‘n paar dae voor diè voorval was daar ‘n inbraak waartydens die SsanYong Musso se battery gesteel is. Volgens Bryanette was die inbrekers so arrogant dat hul die mense se aandete ook opgeëet het. Die vrieskaste was ook leeggemaak.
Teen druktyd was daar nog nie finale begrafnisreëlings getref nie behalwe dat daar ‘n waak Vrydag by die huis sal wees. Die begrafnis sal waarskynlik Saterdag plaasvind.

http://vaalweekblad.com/11037/inwoner-van-vanderbijlpark-doodgesteek/

Poena Botes (68), wat Vrydagaand tydens ‘n huisroof met ‘n mes doodgesteek is.

Monday, August 15, 2016

Moord in Harties: Slagoffer se werker vas

Moord in Harties: Slagoffer se werker vas
Deur Hanti Otto en Susan Cilliers
14 Augustus 2016 23:26

Die werker wat alarm gemaak het ná die moord op Laurika Potgieter van Hartbeespoort is een van twee verdagtes wat in hegtenis geneem is.

Die ander verdagte is ’n onvergenoegde voormalige werknemer van Potgieter se padwerk-onderneming, het Beeld betroubaar verneem.

Koos Pansegrauw, ’n vriend van Potgieter (44), het gesê sy is genoop om dié werker in Februarie te laat gaan weens haar benarde finansiële situasie.

Nadat die werker laat gaan is, het Potgieter glo dreigemente ontvang.

Die twee verdagtes verskyn Maandag in die hof in Brits op aanklag van moord en diefstal, het sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder in Noordwes, gister gesê.

Potgieter se lyk is Woensdag in haar plaashuis in Rietfontein, Hartbeespoort, gekry. Sy is verskeie kere met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek en vermoedelik ook met ’n stomp voorwerp geslaan.

’n Rekenaar, skootrekenaar en selfone is geroof.

Volgens Moleko is die twee verdagtes ’n dag ná die moord in die Ten Rooms- informele nedersetting naby Hartbeespoort aangekeer.

“Die polisie het inligting ontvang oor iemand wat glo gesien is met twee selfone wat aan Potgieter behoort het. Die vermoorde vrou se selfone is glo daarna in sy besit gevind. Dié verdagte het in ondervraging erken hy was betrokke by die moord. ’n Tweede verdagte, wat as tuinwerker vir Potgieter gewerk het, is daarna aangekeer.”

Sy word oorleef deur drie dogters.

http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/moord-in-harties-slagoffer-se-werker-vas-20160814

28-jarige student ‘gekaap en vermoor’

28-jarige student ‘gekaap en vermoor’
Deur Odette Kemp
14 Augustus 2016 21:01
Die lyk van ’n 28-jarige student is Sondagmiddag by Brighton-strand in Port Elizabeth gevind, ongeveer 15 uur nadat hy en sy vriendin gekaap en sy glo verkrag is. Die student se lyk is gevind ná ’n gesamentlike soektog deur verskeie polisie-eenhede en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI). Foto: Werner Hills
Die lyk van ’n 28-jarige student is Sondagmiddag by Brighton-strand in Port Elizabeth gevind, ongeveer 15 uur nadat hy en sy vriendin gekaap en sy glo verkrag is. Die student se lyk is gevind ná ’n gesamentlike soektog deur verskeie polisie-eenhede en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI). Foto: Werner Hills
Hy is na bewering deur ses mans gekaap en voor sy vriendin vermoor, waarna sy lyk 15 uur later in die see by ­Brighton-strand naby Blouwaterbaai gevind is.

Dié 28-jarige student aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU), wie se naam nog nie bekend is nie, is Saterdag omstreeks 21:30 saam met sy vriendin in Noordeinde gekaap.

Volgens ’n anonieme bron het die mans die twee in die kattebak van sy motor geprop en hulle na ’n kitsbank geneem waar sake glo skeef geloop het.

Hulle is daarna na die strand geneem, waar die verdagtes die student glo koelbloedig vermoor en sy vriendin na bewering om die beurt verkrag het.

“Die twee NMU-studente het in ’n motor gesit toe ses mans hulle genader en met ’n vuurwapen gedreig het,” het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

“Hulle is in die kattebak gedwing, waarna twee verdagtes met die motor weggery het.”

Naidu het bevestig dat die verdagtes hulle na ’n strand geneem het, waar die vrou na bewering verkrag is. Haar vriend is ’n paar meter van die motor doodgeskiet.

“Die verdagtes het later die vrou in Sentraal afgelaai en die voorval is [Sondag] in die vroeë oggendure by die polisie aangemeld,” het Naidu gesê.

Ná ’n soektog deur verskeie polisie-eenhede en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is die student se lyk in die see naby Brighton-strand gevind.

Die slagoffer se motor, ’n goue Polo Vivo met die registrasienommer HSC 308 EC, is nog soek. Volgens Naidu het die Baaise polisie onmiddellik ’n taakspan saamgestel om die verdagtes vas te trek.

“Die polisie versoek dat enigeen wat met die ondersoek kan help kapt. Klippie Killian (083 391 2377) of konst. Nkaza (082 442 1384) bel of 08600 10111 skakel. Alle inligting word as vertroulik behandel.”

Zandile Mbabela, NMU-woordvoerder, het Sondagaand in ’n verklaring gesê die universiteit is uiters geskok deur die voorval en sal hul bes doen om aan die meisie ondersteuning te verleen.

Bron: Netwerk 24
http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/28-jarige-student-gekaap-en-vermoor-20160814