Showing posts with label Sundra. Show all posts
Showing posts with label Sundra. Show all posts

Wednesday, September 21, 2016

‘Ystervrou’ sterf ná gewapende roof | Maroela Media
21 September 2016   Phillip Bruwer
Rina Pringle. Foto: Via Facebook



Rina Pringle, ʼn veiligheidsbeampte van Delmas in Mpumalanga, en ʼn kollega, Joseph Coombe, is Dinsdag in die plaasdorpie Sundra buite Delmas tydens ʼn gewapende roof geskiet.

Wilma Greeff, ʼn noodhulpbeampte van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, was van die eerste noodhulpbeamptes op die toneel.

Sy het aan Maroela Media gesê Coombe en Pringle is glo in hul veiligheidsvoertuig deur drie voertuie – ʼn Volvo, ʼn bakkie en ʼn Mercedes Benz – agtervolg en omstreeks 10:00 in Tweede Laan deur die voertuie tot stilstand gedwing.

ʼn Onbekende hoeveelheid mans het op die veiligheidsbeamptes losgebrand en nagenoeg 44 skote is afgevuur.

“Die vrou is met een skoot in die passasierskant van die veiligheidsmotor aangetref. Die man is vyf keer geskiet en het buite die voertuig rondgeloop toe ons daar aankom,” het Greeff gesê. Sy het gesê Coombe kon glo daarin slaag om twee van die aanvallers met sy vuurwapen te wond. Die gewondes se medepligtiges het hulle op die agterkant van die bakkie gelaai voordat hulle van die toneel weggejaag het. Dis is nog nie duidelik of die groep kon slaag om enigiets tydens die voorval te roof nie.

Die noodhulpwerkers en paramedici van verskeie nooddienste het Coombe en Pringle op die toneel gestabiliseer en na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Pringle het in die Life The Glenwood-hospitaal in Benoni aan haar beserings beswyk.

Die polisie en buurtwag het ʼn spoor van die Volvo gevolg, maar later verloor. Die verdagtes is steeds soek.

Greeff het namens haar man, Hennie Greeff, die buurtwag se voorsitter, paramedici van die Bernice Samuel-staatshospitaal in Delmas, Medlife en ER24 bedank. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die Sundra-polisie wat spoedig op die toneel was, asook alle buurtwaglede wat na die verdagtes help soek het.

Die buurtwag het hul innige simpatie met Pringle se familie, vriende en kollegas betuig en Coombe ʼn spoedige herstel toegewens.

Gemeenskapslede beskryf Pringle as ʼn “ystervrou” wat “ongelooflik lojaal” en “uitmuntend en toegewyd” was in haar werk.

Bestuur van die beamptes se veiligheidsmaatskappy was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie. Die maatskappy het die voorval op hul Facebook-blad bevestig.

“Dit is met groot hartseer dat ons almal meedeel dat ons afskeid neem van Rina Pringle wat vroeër vandag [Dinsdag] noodlottig gewond is tydens ʼn gewapende roof. Joseph Coombe is tans in die hospitaal en word behandel vir skietwonde. Sy toestand is ernstig maar stabiel. Ons meegevoel gaan saam met Rina se familie in hierdie moeilike tyd. Dankie vir almal se ondersteuning en bemoediging.”

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag vir terugvoer.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ystervrou-sterf-na-gewapende-roof/
-------
Mense wil maar net met julle deel daar was n geskietery vroer in Rietkol Sundra 2de laan, blykbaar was daar n paar voertuie betrokke waar hul die sekiriteits bakkie beroof het en die mense raak geskiet het, ons eesrste hulp span saam met die ER24 het als in ons vermoe gedoen om die pasiente te stabiliseer ongelukkig het Rina die sekiriteits dame dit nie gemaak nie sy is oorlede in die hospitaal, die oom is sop geneem sal julle terug voer gee sodra ons terug voering kry kom ons bid vir die families kom ons bid vir ons en ons gemeenskap kom ons staan saam en dryf sulke gebeure uit ons dorpie uit !!!!



Sundra Rietkol Bulldogs Buurtwag
https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=1222939904415740&id=608159389227131

Monday, August 22, 2016

Man op kleinhoewe in plaasdorpie doodgeskiet

22 Augustus 2016
Phillip Bruwer

Johan van Rensburg. Foto: Verskaf

Met sy laaste asem het Johan van Rensburg (62) verbete teen ʼn groep aanvallers geveg om sy verloofde, Dina, op hul kleinhoewe in die plaasdorpie, Sundra, in Mpumalanga te beskerm.
Wilma Botha (34), Van Rensburg se gebroke dogter, het Maandag aan Maroela Media gesê sy vind ʼn bietjie berusting in die feit dat haar pa soos ʼn held gesterf het.
Botha verduidelik ʼn buurvrou wat skuins agter haar pa woon, is Vrydag tussen 18:00 en 19:00 vermoedelik deur vier mans op haar kleinhoewe aangeval waartydens sy met ʼn graaf aangerand is. Die mans het laat spaander toe die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, ontbied is.
Van Rensburg, ʼn plaaslike houtkapper en -verkoper, en Dina het omstreeks 19:30 niksvermoedend by hul huis opgedaag.
“Hulle het net by die huis aangekom en uitgeklim toe my pa sien daar kruip mense agter hul vragmotor weg. Hy het vir tannie Dina beveel om in die huis in te gaan en het hulle afgeweer sodat sy genoeg tyd gehad het om in die kombuis in te gaan en die deur te sluit. My pa het met hulle gestoei en twee skote het afgegaan, een skoot het hom in sy kop getref,” het Botha gesê.
Die buurtwag, polisie en paramedici van ER24 was nog op die toneel van die eerste misdaad toe hulle die skote gehoor en gaan ondersoek instel het. Van Rensburg is op die toneel dood verklaar. Dina is ongedeerd maar getraumatiseerd. Die buurvrou is na die waakeenheid van ʼn nabygeleë hospitaal geneem.
Hennie Greeff, die buurtwag se voorsitter, het die voorvalle aan Maroela Media bevestig en gesê ondersoek word ingestel om te bepaal of dieselfde groep met albei voorvalle verbind kan word.
“ʼn Verdagte is Vrydagaand aangekeer en vir ondervraging na die Sundra-polisiestasie geneem,” het hy gesê.
Buurtwaglede het met die hulp van twee veiligheidsmaatskappye, die polisie en die Valke Vrydagaand en Saterdag na nóg verdagtes in die omgewing gesoek. Die soektog duur voort.
Dit is nie bekend of enigiets tydens die twee voorvalle gesteel is nie. Die Sundra-polisiestasie ondersoek die voorval. Maroela Media het die polisie genader vir kommentaar en wag nog vir terugvoer.
Botha het gesê sy sal haar pa as ʼn held onthou. “Hy was ʼn hero wat sy lewe gegee het om tannie Dina te beskerm, wat ʼn aanduiding gee van die goeie mens wat hy was. Hy het altyd baie hard gewerk om vir ons te sorg. Selfs in tye wat ons swaar gekry het, sou hy die min wat hy gehad het met ander mense deel. Hy het ʼn hart van goud gehad,” het sy gesê. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Greeff is vol lof vir die polisie en almal wat Vrydagaand saamgestaan en help soek het. Hy het sy innige dank en waardering teenoor die buurtwaglede, die polisie, die Valke, ER24, Maksimum Sekuriteit en AAA Sekuriteit betuig.

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/man-op-kleinhoewe-in-plaasdorpie-doodgeskiet/