Showing posts with label Dennis Casten. Show all posts
Showing posts with label Dennis Casten. Show all posts

Thursday, June 21, 2018

Natasha ‘in ander klere gevind’


Deur André Desmonds | 20 Junie 2018 20:53



Natasha Mans en haar vriend Dennis Casten. Foto: Facebook

Die vermoorde Natasha Mans het nie meer die klere aangehad waarin sy as vermis aangemeld is toe haar lyk onder ’n boom in haar vriend se erf in Groenvlei, Bloemfontein, gevind is nie.

Die polisie het Woensdag vir die eerste keer bevestig Mans (41) se lyk is gevind in ander klere as dié wat sy sou gedra het toe sy op 31 Mei as vermis aangemeld is. 

Haar vriend Dennis Casten het haar as vermis aangemeld en het sowat twee weke daarna op haar lyk onder ’n boom in sy erf afgekom.

Intussen het die Valke in Bloemfontein bevestig hulle sal nou die ondersoek na Mans se dood oorneem. 

Kapt. S’fiso Nyakane, Valke-woordvoerder, het Woensdag gesê die Valke gaan die saak verder ondersoek, hoewel hulle nog nie die dossier ontvang het nie. 

Die polisie het ook by monde van kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, gesê die lykskouing is reeds afgehandel, maar hulle wag nog op ’n omvattende verslag van die patoloog. 

Mans is glo Woensdag veras met ’n gedenkdiens wat Saterdag sal volg.

Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het met haar verdwyning ’n denimbroek en ’n sweetpakbaadjie aangehad het. Die organisasie Pink Ladies het dieselfde beskrywing versprei.

Volgens Marope was Mans se lyk geklee in ’n swart en grys trui, ’n swart noupassende broek en swart stewels.

Hy het ook bevestig dat ’n intensiewe soektog begin is na die presiese plek waar Mans vermoor is, omdat die polisie “ ’n sterk vermoede” het dat sy moontlik op ’n ander plek vermoor is. 

Volgens ’n bron word ook na voertuie gesoek wat moontlik gebruik is om Mans se lyk te vervoer. 

Voorts probeer die polisie vasstel of daar vreemde mense in die omgewing was op die dag toe sy “verdwyn” het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het nooit by die erf uitgestap die dag toe sy sou verdwyn het nie. Sy is vermoedelik dieselfde dag nog vermoor. 

Marope sê dit is nog nie bekend watter soort vuurwapen gebruik is om haar te skiet nie, omdat die polisie steeds wag op die ballistiese uitslae. 

“Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het,” sê Marope.

Volgens Marope het Mans op haar rug gelê met haar gesig na bo.

Bron: Netwerk24

Wednesday, June 20, 2018

Natasha dalk op dag van verdwyning vermoor

Natasha dalk op dag van verdwyning vermoor
Deur André Desmonds | 19 Junie 2018 20:28

Natasha Mans is vermoedelik dieselfde dag as waarop sy spoorloos verdwyn het, vermoor en haar lyk iewers in ’n vrieskas gehou.

Mans (41), wat nog voor haar dood hondeklere gemaak het, se lyk is ’n week gelede in haar vriend, Dennis Casten, se erf in Groenvlei naby Bloemfontein gevind.

Casten het haar op 31 Mei as vermis aangemeld. 

Terwyl die raaisel oor Mans se moord verdiep, het die polisie ’n sluier van geheimhouding oor die ondersoek getrek. ’n Reeks tergende vrae hang egter oor die moord.

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie kan nie verdere inligting bekend maak nie omdat dit moontlik hul ondersoek kan belemmer.

“Daar is geen nuwe verwikkelinge nie. Die nadoodse ondersoek sal waarskynlik vandeesweek afgehandel word,” is al wat hy wou sê.

’n Bron sê die moontlikheid bestaan dat Mans waarskynlik reeds op die dag van haar verdwyning vermoor is, maar eers later op die plek gelos is waar haar lyk sowat twee weke later gevind is.

Mans is op 13 Junie met ’n skietwond in haar bors en ’n rewolwer langs haar lyk onder ’n boom gevind. Haar lyk is vermoedelik in ’n vrieskas gehou voordat sy op die plek waar sy gevind is, gelos is.

Van die vrae waarvoor die polisie nou moet antwoorde kry, sluit in:

+ Waar is die vrieskas waarin Mans gehou is voordat haar lyk in Castenweg gelos is?

+ Hoeveel mense is betrokke by die moord, want dit sou waarskynlik moeilik wees vir een mens om ’n bevrore lyk uit die vrieskas te haal?

+ Was daar enige vreemde mense in die omgewing op die dag van haar verdwyning?



+ As die rewolwer wat by haar lyk gevind is, nie die moordwapen is nie, waarmee is sy geskiet?

+ Hoekom het Mans nie dieselfde klere aangehad toe sy gevind is as dié waarin sy vermis geraak het nie?

Ben Mans, Natasha se broer, sê geen besonderhede van die begrafnis gaan bekend gemaak word nie.

“Ons is geskok. Dit is ’n moeilike tyd vir ons, want ons weet self nie wat aangaan nie.”

Mans, wat met Casten in ’n verhouding was voor haar dogter, Noeline Koekemoer (15), se dood, se lyk is sowat 15 km van die kleinhoewe in Bainsvlei af gekry waar hulle gebly het toe Noeline in April 2015 vermoor is.

Casten het gesê hy het “niks om te sê vir julle sensasiesoekers nie”.

“Ek dien ’n God van waarheid. Jesus sal die waarheid ontbloot,” sê hy.

Die ondersoek duur voort en die polisie het nog geen verdagtes nie.

Bron: Netwerk 24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/natasha-dalk-op-dag-van-verdwyning-vermoor-20180619