Showing posts with label gevries. Show all posts
Showing posts with label gevries. Show all posts

Sunday, June 24, 2018

MOORD te BFN, opvolg: Polisie lê beslag op selfoon van minderjarige na aan Mans

Deur Suzanne Venter
24 Junie 2018 00:01

’n Roudiens is gister vir Natasha Mans (41) gehou by die Ou Apostoliese kerk in Bloemfontein-Wes. Foto: Verskaf

Die polisie wat die moord op Natasha Mans ondersoek, het Vrydag beslag gelê op die selfoon van ’n minderjarige wat na aan haar was.

Volgens mense in die binnekring het die kind ’n bohaai daaroor opgeskop, maar die pa het die foon toe aan die polisie gegee.

Die polisie se forensiese span het ook monsters geneem by ’n gat wat in die straat voor die oorledene se huis in Groenvlei, Bloemfontein, ontdek is. Die gat is glo vars gegrawe.

Mans (41) het saam met haar kêrel, Dennis Casten (48), in dié huis gewoon.

Sy het op 31 Mei verdwyn nadat sy glo gaan stap het. Haar lyk is 13 dae later in die erf van haar huis gekry. Sy is vermoedelik op die dag van haar verdwyning vermoor, in ’n vrieskas gehou en toe later geskiet en op die erf gelos.

Familie en vriende van Mans het Saterdag ’n roudiens vir haar bygewoon in die Ou Apostoliese kerk in Melvillerylaan, Bloemfontein-Wes. Sy is reeds Donderdag veras. Priester Werner Piechazek, wat in 2015 haar 15-jarige dogter begrawe het nadat sy verkrag en vermoor is, het ook dié diens waargeneem.

Daar was geen toesprake by die diens nie. In die begrafnisbriefie was daar ’n boodskap van haar seun, Braam Koekemoer (16).

“Daar is nie woorde hoe ek oor ma voel nie . . . ma was die een wat altyd daar was vir my, my opgetel het waar ek geval het . . . die een wat net die beste vir my wou gehad het,” het hy geskryf.

Hy het ook geskryf: “. . . wens daar kon net nog een kans wees wat ons net kon praat oor als . . .”

Braam het vir jare saam met sy pa in Namibië gebly, maar hulle het onlangs Vrystaat toe getrek sodat Braam nader aan Natasha kon wees.

Natasha het nog ’n seun, Anroux Botha (8), wat by sy pa, Johan Botha, in Bloemfontein bly. Op die begrafnisbriefie was daar ’n prentjie van ’n blom in ’n blompot wat hy vir sy ma geteken het met die woorde: “Lief vir Mamma. Ek gaan vir Mamma mis.”

Volgens bronne in die binnekring is daar kwade gevoelens tussen van Mans se familie en Casten. Sommige familielede wou nie hê hy moet die roudiens bywoon nie, maar hy was wel daar. Hy kry glo baie swaar en het telkemale tydens die diens in trane uitgebars.

Mans het ’n koeëlwond in die bors gehad toe sy gevind is.

Haar dood het aanvanklik soos ’n selfmoord gelyk, maar dit het later geblyk die .375 Magnum-rewolwer wat by haar lyk gekry is, is nie die vuurwapen waarmee sy geskiet is nie.

Verskeie mense wat naby aan Mans was, het aan
Rapport gesê sy en die minderjarige wie se selfoon gekonfiskeer is, het gereeld vasgesit.

“Sy (Natasha) het my meer as een keer in trane gebel en vertel van hul verskriklike uitvalle. Sy het gesê sy sal nie verbaas wees as die persoon ooit probeer om iets aan haar te doen, soos om haar te vergiftig nie.”

Bron: Rapport
suzanne.venter@rapport.co.za
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/polisie-le-beslag-op-selfoon-van-minderjarige-na-aan-mans-20180623


Thursday, June 21, 2018

Mans moet opstaan oor Natasha Mans



Natasha.

Dis vreemd om ’n brief aan iemand te rig wat reeds dood is. Maar jy is nie die waspop wat skielik grys op die grasperk opduik voor ’n huis in Groenvlei nie.

Presies twee weke nadat jy kamstig weggestap het met die as van jou lieflingdogter, Noeline Koekemoer (15), duik jy op ’n mistige oggend op met miljoene vrae vir ons.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word. Elke minuut van elke dag in dié land.

Groenvlei is nou Stella, waar Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht in die koshuis verwurg is. Dan is daar ook Mooinooi waar Joey en Anisha van Niekerk vermoor en hul lyke uitgebrand is.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word.

Terwyl jy, Natasha, nog gerou het oor Noeline, ’n skoolmeisie in die fleur van haar lewe, wat in jul klein woonstel in Bainsvlei vermoor is, is jyself vermoor. En dit naby Nien, soos jy haar in jou laaste brief genoem het, se as in die kas in die huis.

Het jy daardie laaste oomblik aan haar gedink? Of uitgereik na die as, wat al troos vir jou was in die drie lang jare? Maar jou lyding en dood is besig om ’n woede onder baie mense te ontketen. Hoekom moes een vrou soveel deurmaak, en die moord in ’n kombers van leuens, bedrog en oëverblindery versteek word?

Want iemand het baie moeite gedoen om dit na selfmoord te laat lyk. En dit is seker die laagste van dié mense wat nie mans genoeg was om pa te staan vir jou, Natasha Mans, se moord nie. Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg. Tot jy presies 14 dae ná jou “verdwyning” op die grasperk 30 m van julle huis opgeduik het.

Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg.

Soos die polisiehelikopter die dae ná jy sou verdwyn het na jou gesoek het, is die ondersoekspan besig om die sirkel in die omgewing te fynkam op soek na die plek waar die moordenaars jou lyk weke lank gevries het.

Jy sou dit wou weet, Natasha, as dit iemand anders was wie se moord soveel raaisels het. Soos jy bly bid en hoop het ná Noeline se moord dat geregtigheid sal geskied. Al is dit vir baie ’n skrale troos. Want van daardie kol in die geel gras voor die huis in Groenvlei, waar die verskriklike daad glo gebeur het, kom die leidrade een vir een aan die lig.

Hoekom het iemand voorgegee jy het selfmoord gepleeg – terwyl jy ná jou dood dalk geskiet is? Of dalk nie. Dalk is die wond ’n steekwond. Die raaisels – en die leidrade – word by die dag meer. Want iewers volgende week as jy, Sunshine, soos jy jouself in die brief genoem het, in ’n geheime begrafnis ter ruste gelê word, moet daar ’n deurbraak kom in die ondersoek. Dis ’n klein troos vir baie, maar dis iets.

Rus sag, Natasha en Noeline.

Ons mans in die land het baie vrae om te antwoord oor julle en al die vroue wat ly.



Bron: Charles Smith | 21 Junie 2018 00:01

Netwerk24

https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/mans-moet-opstaan-oor-natasha-mans-20180620

Natasha ‘in ander klere gevind’


Deur André Desmonds | 20 Junie 2018 20:53



Natasha Mans en haar vriend Dennis Casten. Foto: Facebook

Die vermoorde Natasha Mans het nie meer die klere aangehad waarin sy as vermis aangemeld is toe haar lyk onder ’n boom in haar vriend se erf in Groenvlei, Bloemfontein, gevind is nie.

Die polisie het Woensdag vir die eerste keer bevestig Mans (41) se lyk is gevind in ander klere as dié wat sy sou gedra het toe sy op 31 Mei as vermis aangemeld is. 

Haar vriend Dennis Casten het haar as vermis aangemeld en het sowat twee weke daarna op haar lyk onder ’n boom in sy erf afgekom.

Intussen het die Valke in Bloemfontein bevestig hulle sal nou die ondersoek na Mans se dood oorneem. 

Kapt. S’fiso Nyakane, Valke-woordvoerder, het Woensdag gesê die Valke gaan die saak verder ondersoek, hoewel hulle nog nie die dossier ontvang het nie. 

Die polisie het ook by monde van kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, gesê die lykskouing is reeds afgehandel, maar hulle wag nog op ’n omvattende verslag van die patoloog. 

Mans is glo Woensdag veras met ’n gedenkdiens wat Saterdag sal volg.

Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het met haar verdwyning ’n denimbroek en ’n sweetpakbaadjie aangehad het. Die organisasie Pink Ladies het dieselfde beskrywing versprei.

Volgens Marope was Mans se lyk geklee in ’n swart en grys trui, ’n swart noupassende broek en swart stewels.

Hy het ook bevestig dat ’n intensiewe soektog begin is na die presiese plek waar Mans vermoor is, omdat die polisie “ ’n sterk vermoede” het dat sy moontlik op ’n ander plek vermoor is. 

Volgens ’n bron word ook na voertuie gesoek wat moontlik gebruik is om Mans se lyk te vervoer. 

Voorts probeer die polisie vasstel of daar vreemde mense in die omgewing was op die dag toe sy “verdwyn” het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het nooit by die erf uitgestap die dag toe sy sou verdwyn het nie. Sy is vermoedelik dieselfde dag nog vermoor. 

Marope sê dit is nog nie bekend watter soort vuurwapen gebruik is om haar te skiet nie, omdat die polisie steeds wag op die ballistiese uitslae. 

“Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het,” sê Marope.

Volgens Marope het Mans op haar rug gelê met haar gesig na bo.

Bron: Netwerk24

Wednesday, June 20, 2018

Natasha dalk op dag van verdwyning vermoor

Natasha dalk op dag van verdwyning vermoor
Deur André Desmonds | 19 Junie 2018 20:28

Natasha Mans is vermoedelik dieselfde dag as waarop sy spoorloos verdwyn het, vermoor en haar lyk iewers in ’n vrieskas gehou.

Mans (41), wat nog voor haar dood hondeklere gemaak het, se lyk is ’n week gelede in haar vriend, Dennis Casten, se erf in Groenvlei naby Bloemfontein gevind.

Casten het haar op 31 Mei as vermis aangemeld. 

Terwyl die raaisel oor Mans se moord verdiep, het die polisie ’n sluier van geheimhouding oor die ondersoek getrek. ’n Reeks tergende vrae hang egter oor die moord.

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie kan nie verdere inligting bekend maak nie omdat dit moontlik hul ondersoek kan belemmer.

“Daar is geen nuwe verwikkelinge nie. Die nadoodse ondersoek sal waarskynlik vandeesweek afgehandel word,” is al wat hy wou sê.

’n Bron sê die moontlikheid bestaan dat Mans waarskynlik reeds op die dag van haar verdwyning vermoor is, maar eers later op die plek gelos is waar haar lyk sowat twee weke later gevind is.

Mans is op 13 Junie met ’n skietwond in haar bors en ’n rewolwer langs haar lyk onder ’n boom gevind. Haar lyk is vermoedelik in ’n vrieskas gehou voordat sy op die plek waar sy gevind is, gelos is.

Van die vrae waarvoor die polisie nou moet antwoorde kry, sluit in:

+ Waar is die vrieskas waarin Mans gehou is voordat haar lyk in Castenweg gelos is?

+ Hoeveel mense is betrokke by die moord, want dit sou waarskynlik moeilik wees vir een mens om ’n bevrore lyk uit die vrieskas te haal?

+ Was daar enige vreemde mense in die omgewing op die dag van haar verdwyning?



+ As die rewolwer wat by haar lyk gevind is, nie die moordwapen is nie, waarmee is sy geskiet?

+ Hoekom het Mans nie dieselfde klere aangehad toe sy gevind is as dié waarin sy vermis geraak het nie?

Ben Mans, Natasha se broer, sê geen besonderhede van die begrafnis gaan bekend gemaak word nie.

“Ons is geskok. Dit is ’n moeilike tyd vir ons, want ons weet self nie wat aangaan nie.”

Mans, wat met Casten in ’n verhouding was voor haar dogter, Noeline Koekemoer (15), se dood, se lyk is sowat 15 km van die kleinhoewe in Bainsvlei af gekry waar hulle gebly het toe Noeline in April 2015 vermoor is.

Casten het gesê hy het “niks om te sê vir julle sensasiesoekers nie”.

“Ek dien ’n God van waarheid. Jesus sal die waarheid ontbloot,” sê hy.

Die ondersoek duur voort en die polisie het nog geen verdagtes nie.

Bron: Netwerk 24
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/natasha-dalk-op-dag-van-verdwyning-vermoor-20180619