Showing posts with label geskiet. Show all posts
Showing posts with label geskiet. Show all posts

Sunday, June 24, 2018

MOORD te BFN, opvolg: Polisie lê beslag op selfoon van minderjarige na aan Mans

Deur Suzanne Venter
24 Junie 2018 00:01

’n Roudiens is gister vir Natasha Mans (41) gehou by die Ou Apostoliese kerk in Bloemfontein-Wes. Foto: Verskaf

Die polisie wat die moord op Natasha Mans ondersoek, het Vrydag beslag gelê op die selfoon van ’n minderjarige wat na aan haar was.

Volgens mense in die binnekring het die kind ’n bohaai daaroor opgeskop, maar die pa het die foon toe aan die polisie gegee.

Die polisie se forensiese span het ook monsters geneem by ’n gat wat in die straat voor die oorledene se huis in Groenvlei, Bloemfontein, ontdek is. Die gat is glo vars gegrawe.

Mans (41) het saam met haar kêrel, Dennis Casten (48), in dié huis gewoon.

Sy het op 31 Mei verdwyn nadat sy glo gaan stap het. Haar lyk is 13 dae later in die erf van haar huis gekry. Sy is vermoedelik op die dag van haar verdwyning vermoor, in ’n vrieskas gehou en toe later geskiet en op die erf gelos.

Familie en vriende van Mans het Saterdag ’n roudiens vir haar bygewoon in die Ou Apostoliese kerk in Melvillerylaan, Bloemfontein-Wes. Sy is reeds Donderdag veras. Priester Werner Piechazek, wat in 2015 haar 15-jarige dogter begrawe het nadat sy verkrag en vermoor is, het ook dié diens waargeneem.

Daar was geen toesprake by die diens nie. In die begrafnisbriefie was daar ’n boodskap van haar seun, Braam Koekemoer (16).

“Daar is nie woorde hoe ek oor ma voel nie . . . ma was die een wat altyd daar was vir my, my opgetel het waar ek geval het . . . die een wat net die beste vir my wou gehad het,” het hy geskryf.

Hy het ook geskryf: “. . . wens daar kon net nog een kans wees wat ons net kon praat oor als . . .”

Braam het vir jare saam met sy pa in Namibië gebly, maar hulle het onlangs Vrystaat toe getrek sodat Braam nader aan Natasha kon wees.

Natasha het nog ’n seun, Anroux Botha (8), wat by sy pa, Johan Botha, in Bloemfontein bly. Op die begrafnisbriefie was daar ’n prentjie van ’n blom in ’n blompot wat hy vir sy ma geteken het met die woorde: “Lief vir Mamma. Ek gaan vir Mamma mis.”

Volgens bronne in die binnekring is daar kwade gevoelens tussen van Mans se familie en Casten. Sommige familielede wou nie hê hy moet die roudiens bywoon nie, maar hy was wel daar. Hy kry glo baie swaar en het telkemale tydens die diens in trane uitgebars.

Mans het ’n koeëlwond in die bors gehad toe sy gevind is.

Haar dood het aanvanklik soos ’n selfmoord gelyk, maar dit het later geblyk die .375 Magnum-rewolwer wat by haar lyk gekry is, is nie die vuurwapen waarmee sy geskiet is nie.

Verskeie mense wat naby aan Mans was, het aan
Rapport gesê sy en die minderjarige wie se selfoon gekonfiskeer is, het gereeld vasgesit.

“Sy (Natasha) het my meer as een keer in trane gebel en vertel van hul verskriklike uitvalle. Sy het gesê sy sal nie verbaas wees as die persoon ooit probeer om iets aan haar te doen, soos om haar te vergiftig nie.”

Bron: Rapport
suzanne.venter@rapport.co.za
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/polisie-le-beslag-op-selfoon-van-minderjarige-na-aan-mans-20180623


Thursday, June 21, 2018

Mans moet opstaan oor Natasha Mans



Natasha.

Dis vreemd om ’n brief aan iemand te rig wat reeds dood is. Maar jy is nie die waspop wat skielik grys op die grasperk opduik voor ’n huis in Groenvlei nie.

Presies twee weke nadat jy kamstig weggestap het met die as van jou lieflingdogter, Noeline Koekemoer (15), duik jy op ’n mistige oggend op met miljoene vrae vir ons.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word. Elke minuut van elke dag in dié land.

Groenvlei is nou Stella, waar Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht in die koshuis verwurg is. Dan is daar ook Mooinooi waar Joey en Anisha van Niekerk vermoor en hul lyke uitgebrand is.

Natasha het op daardie Woensdagoggend die naam geword van elke vrou en meisie wat wreed aangeval, beseer en vermoor word.

Terwyl jy, Natasha, nog gerou het oor Noeline, ’n skoolmeisie in die fleur van haar lewe, wat in jul klein woonstel in Bainsvlei vermoor is, is jyself vermoor. En dit naby Nien, soos jy haar in jou laaste brief genoem het, se as in die kas in die huis.

Het jy daardie laaste oomblik aan haar gedink? Of uitgereik na die as, wat al troos vir jou was in die drie lang jare? Maar jou lyding en dood is besig om ’n woede onder baie mense te ontketen. Hoekom moes een vrou soveel deurmaak, en die moord in ’n kombers van leuens, bedrog en oëverblindery versteek word?

Want iemand het baie moeite gedoen om dit na selfmoord te laat lyk. En dit is seker die laagste van dié mense wat nie mans genoeg was om pa te staan vir jou, Natasha Mans, se moord nie. Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg. Tot jy presies 14 dae ná jou “verdwyning” op die grasperk 30 m van julle huis opgeduik het.

Jy is, asof met liefde, ná die moord uitgetrek, gewas en skoon klere aangetrek en toe in ’n vrieskas of vrieskamer geberg.

Soos die polisiehelikopter die dae ná jy sou verdwyn het na jou gesoek het, is die ondersoekspan besig om die sirkel in die omgewing te fynkam op soek na die plek waar die moordenaars jou lyk weke lank gevries het.

Jy sou dit wou weet, Natasha, as dit iemand anders was wie se moord soveel raaisels het. Soos jy bly bid en hoop het ná Noeline se moord dat geregtigheid sal geskied. Al is dit vir baie ’n skrale troos. Want van daardie kol in die geel gras voor die huis in Groenvlei, waar die verskriklike daad glo gebeur het, kom die leidrade een vir een aan die lig.

Hoekom het iemand voorgegee jy het selfmoord gepleeg – terwyl jy ná jou dood dalk geskiet is? Of dalk nie. Dalk is die wond ’n steekwond. Die raaisels – en die leidrade – word by die dag meer. Want iewers volgende week as jy, Sunshine, soos jy jouself in die brief genoem het, in ’n geheime begrafnis ter ruste gelê word, moet daar ’n deurbraak kom in die ondersoek. Dis ’n klein troos vir baie, maar dis iets.

Rus sag, Natasha en Noeline.

Ons mans in die land het baie vrae om te antwoord oor julle en al die vroue wat ly.



Bron: Charles Smith | 21 Junie 2018 00:01

Netwerk24

https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/mans-moet-opstaan-oor-natasha-mans-20180620

Natasha ‘in ander klere gevind’


Deur André Desmonds | 20 Junie 2018 20:53



Natasha Mans en haar vriend Dennis Casten. Foto: Facebook

Die vermoorde Natasha Mans het nie meer die klere aangehad waarin sy as vermis aangemeld is toe haar lyk onder ’n boom in haar vriend se erf in Groenvlei, Bloemfontein, gevind is nie.

Die polisie het Woensdag vir die eerste keer bevestig Mans (41) se lyk is gevind in ander klere as dié wat sy sou gedra het toe sy op 31 Mei as vermis aangemeld is. 

Haar vriend Dennis Casten het haar as vermis aangemeld en het sowat twee weke daarna op haar lyk onder ’n boom in sy erf afgekom.

Intussen het die Valke in Bloemfontein bevestig hulle sal nou die ondersoek na Mans se dood oorneem. 

Kapt. S’fiso Nyakane, Valke-woordvoerder, het Woensdag gesê die Valke gaan die saak verder ondersoek, hoewel hulle nog nie die dossier ontvang het nie. 

Die polisie het ook by monde van kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, gesê die lykskouing is reeds afgehandel, maar hulle wag nog op ’n omvattende verslag van die patoloog. 

Mans is glo Woensdag veras met ’n gedenkdiens wat Saterdag sal volg.

Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het met haar verdwyning ’n denimbroek en ’n sweetpakbaadjie aangehad het. Die organisasie Pink Ladies het dieselfde beskrywing versprei.

Volgens Marope was Mans se lyk geklee in ’n swart en grys trui, ’n swart noupassende broek en swart stewels.

Hy het ook bevestig dat ’n intensiewe soektog begin is na die presiese plek waar Mans vermoor is, omdat die polisie “ ’n sterk vermoede” het dat sy moontlik op ’n ander plek vermoor is. 

Volgens ’n bron word ook na voertuie gesoek wat moontlik gebruik is om Mans se lyk te vervoer. 

Voorts probeer die polisie vasstel of daar vreemde mense in die omgewing was op die dag toe sy “verdwyn” het.

Netwerk24 het vroeër berig Mans het nooit by die erf uitgestap die dag toe sy sou verdwyn het nie. Sy is vermoedelik dieselfde dag nog vermoor. 

Marope sê dit is nog nie bekend watter soort vuurwapen gebruik is om haar te skiet nie, omdat die polisie steeds wag op die ballistiese uitslae. 

“Ná die voorlopige ondersoek deur forensiese kundiges op die toneel meen hulle die vuurwapen wat op die toneel gevind is, is van ’n groter kaliber wat ’n groter wond sou veroorsaak het,” sê Marope.

Volgens Marope het Mans op haar rug gelê met haar gesig na bo.

Bron: Netwerk24

Wednesday, June 20, 2018

Man veg om lewe ná aanval op kleinhoewe

20 Junie 2018
Mariné Lourens


ʼn Jong pa van Gauteng veg om sy lewe in die hospitaal nadat hy Woensdag in die vroeë oggendure twee keer op ʼn kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing in Pretoria geskiet is.

Jonty Jacobs (28) was saam met sy verloofde, Doreen Lubbe, en sy sesjarige dogtertjie in die huis toe die voorval gebeur het.



Lubbe was Woensdagoggend baie emosioneel toe sy met Maroela Media gepraat het. “Hy veg om sy lewe omdat hy ons beskerm het,” het sy gesê.

Die presiese gebeure tydens die aanval is egter nog skraps. Danie Jacobs, Jonty se pa, het aan Maroela Media gesê hy het omstreeks 02:30 ʼn oproep van Jonty gekry wat vir hom gesê het daar is onbekende mense op die kleinhoewe.

“Hy het my gebel en gesê ek moet dringend kom, want daar is klaar mense in die huis óf hulle is besig om te probeer om in die huis in te kom,” het Jacobs vertel. Hy het dadelik in sy voertuig gespring en na die kleinhoewe gejaag.

In hierdie tyd het Jonty egter die aanvallers teëgekom en is hy twee keer in sy bolyf geskiet. “Ek is nog nie seker wat presies gebeur het nie. Ek weet nie of hy hom in die huis in die aanvallers vasgeloop het of wat nie,” sê Jacobs. “Doreen het vertel sy kon uit die kamer Jonty se stem hoor wat sê: ‘Vat net wat julle wil, asseblief. Moet ons net nie seermaak nie.’ En toe klap die skote.”

Volgens Jacobs het die aanvallers met onder meer selfone en ʼn televisie van die toneel gevlug.

Lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF) was eerste op die toneel en Jacobs enkele oomblikke later. Kort daarna was die SAPD ook daar en Jonty is na ʼn hospitaal gehaas.

Hy word tans in die hoësorgeenheid van die Steve Biko- Akademiese hospitaal behandel.

Jacobs sê een van die koeëls het deur Jonty se longe gegaan, wat erge inwendige bloeding veroorsaak het. Die tweede koeël het in sy bolyf agtergebly.

“Hy is tans verlam in sy onderlyf, so dit lyk of die koeël dalk in een van sy werwels vassit. Die dokters kan vir nou niks doen nie. Daar is ʼn pypie in sy longe om die bloed uit sy longe te dreineer. Hulle het verskriklik gesukkel om hom gestabiliseer te kry, maar die afgelope uur lyk dit of die verdowing ingeskop het en hy is nou baie rustiger. Ons sal so bietjie later meer weet oor sy toestand.”

Jacobs het bevestig Lubbe en Jonty se dogter is ongedeerd, maar erg getraumatiseerd. Die GPF het reeds berading vir die kind gereël en daar word tans na haar omgesien terwyl Lubbe en ander familielede by die hospitaal is.

Marie Kruger, voorsitter van die plaaslike GPF, het die voorval aan Maroela Media bevestig, maar wou nie meer inligting verskaf nie. Maroela Media wag op kommentaar van die polisie.

Bron: Maroela Media
____________________
Wian Vogel voel emosioneel saam met Jonty Striker Jacobs.
14 ure · 

Ek dra Jonty Striker Jacobs op aan die Here. Hy is vanoggend geskiet ini rug na n huis inbraak. My gebede gaan uit aan hom waar hy oppad hospitaal toe is. Conrad Blikkies Jacobs die Here is almagtig en sal sy hand oor hom hou. Almal wat die post lees bid asb saam.

Bron:
____________________
Inbrekers skiet man voor sy dogter, verloofde
Deur Andrea Kusel | 20 Junie 2018 14:09

’n Man is Woensdag in die vroeë oggendure ten aanskoue van sy sesjarige dogter en sy verloofde geskiet toe inbrekers toegang tot hul huis op ’n plaas in Leeuwfontein naby Roodeplaat in Pretoria wou verkry.

Jonty Jacobs (28) en sy sesjarige dogtertjie. Jacobs is Woensdagoggend vroeg verskeie kere raakgeskiet toe inbrekers toegang tot sy huis op ‘n plaas in Leeuwfontein naby Roodeplaat in Pretoria wou kry.

Jonty Jacobs (28) is verskeie kere raakgeskiet toe hy op die aanvallers geskree het.
Hy is in ’n kritieke toestand na die Steve Biko- akademiese hospitaal geneem.

“Hy het tussen 02:00 en 03:00 wakker geword toe iemand die houtraam van die venster probeer oopbreek het,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Toe Jacobs op die aanvallers skree, het hulle verskeie kere deur die venster geskiet. “Hy is meer as een keer getref, vermoedelik ook in die ruggraat.”
Volgens Cameron het die hele voorval ten aanskoue van Jacobs se dogtertjie en sy verloofde gebeur. “Hulle het ’n week of twee gelede verloof geraak.”
Cameron sê die polisie was op die toneel om die voorval te ondersoek. Die polisie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Bron: Netwerk24

Tuesday, August 30, 2016

ONDERHOOF 9 KEER GESKIET: STERF IN HOSPITAAL WEKE LATER


ONDERHOOF 9 KEER GESKIET: STERF IN HOSPITAAL WEKE LATER

Johan du Toit. Foto: Netwerk24

POSTED BY: ARMAND CLOETE 30/08/2016

Die onderhoof van Hoërskool Akasia, is vanoggend oorlede nadat hy in Junie tydens ’n huisroof in Pretoria nege keer geskiet is.

Die 57-jarige Johan du Toit se vrou, Retha, wat ’n onderwyseres by dié skool is, het bevestig dat haar man ná meer as 12 weke in die hospitaal dood is.

Du Toit het verlede week begin vordering maak toe hy vir die eerste keer in twaalf weke sy bewussyn herwin het.


Http://100punt6.co.za/onderhoof-9-keer-geskiet-sterf-hospitaal-weke-later/
-------
Johan du Toit (57), onderhoof van Hoërskool Akasia, is Dinsdagoggend oorlede nadat hy in Junie tydens ’n huisroof in Pretoria nege keer geskiet is.
Sy vrou, Retha, ook ’n onderwyseres by dié skool, het Dinsdagoggend bevestig dat haar man ná meer as 12 weke in die hospitaal dood is.
Du Toit het verlede week begin vordering maak toe hy vir die eerste keer in 12 weke wakker geword het.
Hy was tot verlede week nog onder verdowing.
Een van die koeëls is uit Du Toit se liggaam verwyder en die ander agt is dwarsdeur hom.
Du Toit is geskiet toe hy die drie rowers in sy huis in Pretoria-Noord op heterdaad betrap het.
Kapt. Rheineth Motlana, polisiewoordvoerder, sê die rowers het die deur met ’n koevoet oopgebreek. Hulle het net ’n plasma-TV gebuit, het Netwerk24 vroeër berig.
Retha het haar dankbaarheid uitgespreek vir die liefde en ondersteuning vanuit die gemeenskap.

“Veral dankie aan die dokters van die Eugene Marais-hospitaal.”

http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/onderhoof-sterf-na-hy-9-keer-geskiet-is-20160830