Showing posts with label Bejaardes. Show all posts
Showing posts with label Bejaardes. Show all posts

Wednesday, September 14, 2016

Opvolg-Plaasaanvallers gesoek

Plaasaanvallers gesoek ná twee afsonderlike voorvalle
CHRISTAL-LIZE MULLER
09:32 (GMT+2) Wed, 14 Sep 2016


Bloemfontein - Die polisie in die Vrystaat soek na plaasaanvallers wat vanoggend by twee afsonderlike voorvalle betrokke was.

Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê 'n bejaarde boer, Frikkie van der Merwe, sy vrou en hul dogter is net ná middernag deur ses rowers in hul plaashuis naby Bothaville in die Vierfontein-distrik oorval. 

Hulle is met kleefband vasgebind.
Die aanvallers het die 87-jarige Van der Merwe, sy 85-jarige vrou en hul 57-jarige dogter aangehou. Die mans het daarna toegang tot die kluis verkry en ‘n vuurwapen en onbekende bedrag geld gebuit.

Goabepe sê die aanvallers het ook met drie selfone en ‘n trouring in die Van der Merwe’s se Volkswagen Tiguan op die vlug geslaan.

Volgens hom het die erg getraumatiseerde slagoffers nie ernstige beserings opgedoen nie.

Intussen het die polisiewoordvoerder in die Smithfield-distrik, Yanga Ngukana, bevestig dat die polisie omstreeks 02:00 weens ‘n aanval buite die dorp ontbied is.

Al inligting wat hy in hierdie stadium bekend kan maak, is dat die verdagtes te voet van die plaas gevlug het.

Die distrik se veiligheidskoördineerder, Hugo Pretorius, het vroeër aan OFM-nuus gesê dié gebied in die rigting van Bethulie se veiligheidsplan is dadelik in werking gestel.

Volg OFM-nuus vir verwikkelinge.

OFM-nuus

http://www.ofm.co.za/article/local-news/193430/plaasaanvallers-gesoek-n%c3%a1-twee-afsonderlike-voorvalle

Monday, August 15, 2016

Bejaardes in huis in Dunnottar aangeval

Bejaardes in huis in Dunnottar oorval

Gewapende rowers het 70-jariges geskop en geslaan.

Lydia Rice | 15 Augustus 2016

‘n Bejaarde egpaar van Dunnottar is deur gewapende rowers in hul huis oorval, geskop en geslaan. Die 70-jarige huiseienaar is in die gesig met ‘n wapen geslaan waarna hy bloeiend vir meer as ‘n uur in ‘n kluis toegesluit is.

Die egpaar was saam met ‘n man wat hul TV kom herstel het op 11 Augustus om 19:00 by die huis toe twee rowers by die agterdeur ingeloop het.

Hulle het wapens, kontant, ou munte, messe en juwele gesteel en die bejaarde se twee ringe van sy vinger gestroop. Hulle het hom hierna in die kluis gedwing en toegesluit. Hulle het ook toerusting van die TV-werker gebuit.

Die bejaarde (wie se kopwond baie gebloei het) is na Life Springs Parkland Hospitaal geneem, maar is teen die naweek ontslaan.

Die twee rowers het deurgaans kalm in Engels met die drie slagoffers, maar Zulu met mekaar gepraat.

Volgens Adjudant Offisier Tommy Tomlinson van Dunnottar Polisiestasie het die rowers vermoedelik in ‘n wagtende voertuig gevlug. Enigiemand met inligting oor die voorval, kan die polisie by 011 737 9638 skakel.

http://heidelbergnigelheraut.co.za/17143/bejaardes-in-huis-in-dunnottar-oorval/#.V7G3NWkN77g.facebook